Uitspraak is voorbehou in AfriForum se hofaansoek teen die parlement om ’n verslag wat daartoe kan lei dat die Grondwet gewysig moet word om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, ongrondwetlik te verklaar.
Die aansoek handel oor ’n verslag wat in 2018 namens die parlement deur ’n diensverskaffer hanteer is en daarop dui dat art. 25 van die Grondwet gewysig moet word sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind.
AfriForum se aansoek bestaan uit twee dele.
Die eerste deel was ’n mislukte poging in 2018 om ’n interdik te bekom teen die parlement en die implementering van die wysigingswet.
Die tweede deel van die aansoek is Woensdag virtueel in die hooggeregshof in Kaapstad voor regter Hayley Slingers aangehoor.
Hoewel daar intussen ’n ad hoc-komitee saamgestel is om die kwessie te hersien, soek AfriForum steeds ’n bevel wat sê die aanvanklike proses is ongrondwetlik omdat die proses van openbare deelname nie reg gevolg is nie.
Adv. Thembeka Ngcukaitobi SC, wat namens die respondente (die voorsitter van die gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee, speaker van die nasionale vergadering en die voorsitter van die raad van provinsies) optree, het Woensdag gesê die aansoek is “lastige litigasie” en moet met koste van die hand gewys word.
Hy sê die saak is akademies van aard en hoort nie aangehoor te word nie. Verder kan net die konstitusionele hof dié soort saak aanhoor.
AfriForum, wat deur adv. Etienne Labuschagne, SC verteenwoordig is, sê die aansoek is nie ’n vermorsing van tyd nie en daar moet ’n bevel bekom word wat die parlement kan gebruik om die regte proses te volg wanneer wetgewing oorweeg word.
Labuschagne het gesê parlement het verskeie prosedurele gebreke oor die hoof gesien om tot die gevolgtrekking te kom dat die Grondwet wel gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding toe te laat.
Labuschagne sê die proses se grootste fout is dat nagenoeg 180 000 van sowat 630 000 stemme nie in ag geneem is nie. Volgens hom het die parlement hul grondwetlike verpligtinge versuim en hierdie mense se grondwetlike reg om aan ’n openbare deelnameproses deel te neem, ontneem.
Die diensverskaffer het aangevoer die stemme wat nie getel is nie, was duplisering.
Ngcukaitobi sê die aansoek is “ ’n vermorsing van tyd” juis omdat daar intussen verwikkelinge in die parlement plaasgevind het wat die aansoek betekenisloos laat.
In Julie het ’n meerderheid LP’s in die Nasionale Vergadering besluit om die ad hoc-komitee oor die wysiging van dié artikel weer in die lewe te roep.
Hulle het onder meer ’n konsepwetsontwerp gepubliseer met die doel om die Grondwet te wysig om te verseker dat grond en verbeteringe daarop sonder vergoeding vir doeleindes van grondhervorming onteien kan word.
Dit het sterk politieke teenkanting gekry, juis in die huidige ekonomiese klimaat.
Labuschagne het gesê al is die saak akademies van aard, kan dit steeds aangehoor word.
“Die proses van openbare deelname moet reg hanteer word en ’n bevel kan die parlement lei in toekomstige besluite oor die proses.”
Uitspraak is voorbehou.