Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak voorbehou in OB se appèl

Die proses om die openbare beskermer uit haar amp te verwyder is ongekend en ’n eerste in Suid-Afrika. Daarom is dit ’n kwessie van ernstige openbare belang dat ’n hoër hof beslis oor ’n interdik om dit te keer, het adv. Dali Mpofu SC Dinsdag voor ’n volbank regters in Kaapstad se hooggeregshof gesê.

Hy het namens die OB, Adv. Busisiwe Mkhwebane, aansoek gedoen om te appelleer teen dié hof se uitspraak verlede maand, toe dit haar aansoek vir só ’n interdik met koste van die hand gewys het.

Mkhwebane het gehoop dié interdik sal tydelik die parlementêre proses teen haar stuit, sodat sy haar aansoek kan afhandel om die grondwetlikheid van die reëls waarvolgens sy uit haar amp verwyder word, te betwis.

Die parlement het vroeër gesê die verwyderingsproses gaan voort en Thandi Modise, Speaker van die Nasionale Vergadering, sal vandeesweek die name bekendmaak van die kandidate wat sal dien op die onafhanklike paneel om te besluit of daar gronde is om Mkhwebane te verwyder.

Mpofu het gister aangevoer die regters het in hul vroeëre uitspraak gefouteer.

Die hof het onder meer bevind die OB het nie ’n sterk saak in haar interdikaansoek gemaak nie of kon nie bewys sy, haar kantoor of die publiek enige skade sal ly as die parlementêre proses voortgaan nie.

Mpofu het gister gesê sy kliënt sal onherstelbare skade lei, veral omdat sy in haar amp ’n “gepersonaliseerde” posisie beklee. “Dit is ongekend dat so ’n kantoor, weens voortdurende tugstappe, ontneem word van die persoon wat dit beklee.” Volgens hom is dít, tesame met “verskeie tekortkominge” in die uitspraak, genoeg rede vir verlof tot appèl.

Modise en die DA, wat die verwyderingsmosie teen Mkhwebane ingedien het, het gister se aansoek teengestaan. Adv. Andrew Breitenbach SC, vir Modise, het aangevoer daar is geen vooruitsig dat die appèlhof sal bevind die hoogeregshof gefouteer het nie. Adv. Steven Budlender SC, vir die DA, het op sy beurt ook aangevoer Mpofu het nie ’n oortuigende saak vir verlof tot appèl uitgemaak nie.

Regters Vincent Saldanha, Elize Steyn en Monde Samela het uitspraak in gister se jongste aansoek voorbehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.