
Lt.genl. Berning Ntlemeza Foto: Lucky Nxumalo
Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) hoop om met hul jongste hofsaak lt.genl. Berning Ntlemeza permanent as hoof van die Valke uit die kussings te lig nadat hulle sewe maande gelede nie ’n bevel vir sy skorsing kon verkry nie.
’n Volbank van die hooggeregshof in Pretoria het Woensdagmiddag uitspraak voorbehou in die HSS en FUL se aansoek om Ntlemeza se aanstelling verlede jaar as Valke-hoof tersyde gestel te kry.
Die organisasies voer aan dat Nathi Nhleko, minister van polisie, se aanstelling van Ntlemeza onregmatig, onreëlmatig en irrasioneel was. Die organisasies grond hul betoë op die bevindings en opmerkings van twee regters in vorige hofsake.
Hulle meen dat Nhleko sy diskresie misbruik het met die aanstelling nadat regters Elias Matojane en Anton van Zyl in twee sake kritiek teen Ntlemeza uitgespreek het.
Dié sake het gespruit uit Ntlemeza se skorsing van genls.maj. Johan Booysen en Shadrack Sibiya, voormalige Valke-hoofde in onderskeidelik KwaZulu-Natal en Gauteng.
Die HSS en FUL voer aan dat Ntlemeza in die hoogste pos in die land se korrupsie- en misdaadbekampingseenheid aangestel is, ondanks verdoemende geregtelike bevindings oor sy integriteit, eerlikheid en geskiktheid om so ’n pos te beklee.
Hulle meen dat Nhleko nie behoorlik, of glad nie, dié bevindings oorweeg het voordat hy Ntlemeza aangestel het nie.
Hulle meen dat Nhleko nie behoorlik, of glad nie, dié bevindings oorweeg het voordat hy Ntlemeza aangestel het nie. Dus kon Ntlemeza nooit behoorlik aangestel gewees het nie.
Matojane het in Maart verlede jaar gesê Ntlemeza het getuienis versin en voor die hof gelieg in ’n poging om Sibiya uit die polisie te skop. Die regter het Ntlemeza toe ’n “leuenaar, oneerlik en sonder integriteit en eerbaarheid” genoem.
The Times het berig regter Selby Baqwa het Woensdag in die HSS en FUL se saak gevra of die proses om Ntlemeza aan te te stel, nie ’n skyn was nie, want die paneel wat die kandidaat moes aanbeveel, het nie ’n hofuitspraak gesien wat ’n invloed op Ntlemeza se aanstelling kon hê nie.
Nhleko het in hofstukke gesê Matojane se kommentaar was nie bindend nie, want die kommentaar is nie in die hof bespreek nie. Hy het Matojane se uitspraak nie oorweeg nie en dit nie aan die paneel verskaf nie.