Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitspraak voorbehou in saak teen versekeraars oor eise

’n Volbank regters het Dinsdag hul uitspraak voorbehou in die saak waarin lede van ’n gasvryheidsgroep hul versekeraars in die hof gedaag het oor eise vir sakeonderbreking wat hulle nie wil uitbetaal nie.

Ma-Afrika Hotels en die restaurant-maatskappy Stellenbosch Kitchen, het saam met Insurance Claim Africa (ICA) vir Santam, een van die land se grootste versekeraars, voor die hof gedaag weens eise vir sakeonderbreking (SO) wat Santam nie wil uitbetaal nie.

Dit is ’n belangrike saak vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf en die versekeraars wat aanvoer ondernemings se eise vir sakeonderbreking is nie hier van toepassing nie omdat dit die staat van inperking, en nie die pandemie is nie, wat hul bedrywighede onderbreek het.

Gesamentlike aansoek

Regter Patricia Goliath, adjunk-regterpresident van die hooggeregshof in Kaapstad, het saam met regters Shanaaz Meer en Pearl Mantame die saak aangehoor.

'n Ete by Stellenbosch Kitchen. Foto: Argief

Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchen het gesamentlik die aansoek teen Santam ingedien.

Luidens Ma-Afrika se hofstukke het hulle net in Maart byna R5 miljoen se inkomste verloor deur die sluiting van hul hotelle en restaurante weens die inperkingsregulasies.

Baie werknemers het hul poste verloor en kon gevolglik nie hul afhanklikes finansieel ondersteun nie.

Hulle het in hul hofstukke verwys na die onlangse uitspraak van regter André le Grange van dieselfde hof, einde Junie in ’n soortgelyke saak waar Cafe Chameleon in die noordelike voorstede sy versekeringsmaatskappy, GuardRisk, weens dieselfde redes hof toe gesleep het.

Waterskeidingsaak

Le Grange het beslis GuardRisk moet die eise uitbetaal.

Ryan Woolley, uitvoerende hoof van ICA, wat namens sowat 700 ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsbedryf eise vir sakeonderbrekings behartig, meen dit is ’n “waterskeidingsaak waar die uitspraak ’n groot invloed op die versekeringsbedryf sal hê”.

Santam se hoofkantoor in Bellville Foto: Estate Living

Die standpunt van die versekeraars het volgens die applikante ’n rampspoedige invloed op die bedryf en sy werknemers. Hy meen al is dit net Ma-Afrika Hotels in die hof, verteenwoordig hulle in werklikheid die hele bedryf wat eise vir sakeonderbreking ingedien het ten opsigte van dekking vir aansteeklike en oordraagbare siektes. Dit is nie net Santam wat moet pa staan nie, maar al die versekeringsmaatskappye, soos Old Mutual Insurance, Hollard, GuardRisk, Bryte, Thatch, F&I, TRA, Lombard, AIG, Chubb en Monitor.

“Soos Santam, het al dié maatskappye eise van die hand gewys,” sê Woolley.

Santam se hofstukke

In Santam se hofstukke voer die maatskappy aan die wêreldwye en plaaslike verspreiding van die virus, die stappe wat die regering gedoen het om die verspreiding te vertraag, die staat van inperking en ander regulasies wat in plek gestel is om die verspreiding te beperk, word nie in terme van die versekeringspolis gedek nie en “die saak eindig daar”.

Santam sê daar is baie simpatie met alle ondernemings wat hulself in soortgelyke posisies bevind, maar dit is nie ’n grondslag waarop ’n onderneming verseker word nie.

“Die polisse dek versekerde verliese, onderhewig aan terme, nie ekonomiese ontbering weens die Covid-19-pandemie nie,” lui die hofstukke.

“Die verlening van die dekking vir onderbreking van sake dek verskeie faktore, insluitend oordraagbare en aansteeklike siektes. Dit sluit nie die gevolge van ’n wêreldwye pandemie of ’n nasionale siekte soos die koronavirus en die gevolge daarvan, insluitend die regering se reaksie daarop, in nie, sê Santam.

Die polisse dek versekerde verliese, onderhewig aan terme, nie ekonomiese ontbering weens die Covid-19-pandemie nie.

Santam se hulp is nie uitbetalings nie

Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam, het in Julie in ’n onderhoud aan Elvira Wood van Netwerk24 gesê dit is nie moontlik om maatskappye teen pandemies soos Covid-19 te verseker nie.

Daar is nie genoeg premies en kapitaal in die sektor beskikbaar om maatskappye te verseker teen ’n pandemie soos wat tans die geval is nie, het Lambrechts gesê.

Santam het in Julie besluit om R1 miljard se “finansiële hulp” aan veral kleinsake in die gasvryheidsbedryf beskikbaar te stel.

Sy het uitdruklik gesê dat die hulp nie eise is wat uitbetaal word nie.

Uitspraak word voorbehou.

Meer oor:  Santam  |  Eise  |  Koronavirus  |  Versekeraars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.