Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitstel in Zuma-saak ‘klein prys om te betaal’

’n Uitstel van twee weke in die strafregtelike verhoor van oudpres. Jacob Zuma in die wapenskandaal-saak behoort nie ’n wesenlike invloed op die verhoor te hê nie.

En Zuma se regspan was nie verkeerd nie; die ideale omstandighede is dat ’n aangeklaagde fisiek in die hof moet wees vir ’n strafregtelike verhoor.

Oudpres. Jacob Zuma

Maar wat die Zuma-regspan nie nou kan doen nie, is om die beslissing van regter Piet Koen, dat die saak vir twee weke uitgestel word, op appèl te neem – wat ’n baie langer sloerdery in die verhoor sou kon beteken as om die saak tot 10 Augustus uit te stel.

Dít is die mening van prof. Llewelyn Curlewis, strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, wat sê hy meen Koen het ’n bietjie gegee en ’n bietjie geneem in sy beslissing in die aansoek deur Zuma dat die verhoor uitgestel moet word.

“Een goeie ding van die uitspraak is dat Koen Zuma gelyk gegee het, so dit kan nie op appèl geneem word nie,” sê Curlewis.

Koen het Dinsdagoggend in die hooggeregshof in Pietermaritzburg beslis die saak word tot 10 Augustus uitgestel nadat Zuma se twee regsverteenwoordigers, advv. Dali Mpofu SC en Thabani Masuku SC, Maandag in die aansoek aangevoer het Zuma wil self in die hof wees en nie net met ’n oudiovisuele skakel vanuit die Estcourt-gevangenis deelneem aan die hofverrigtinge nie.

Dié deel van die hofsaak is nog nie die verhoor self nie, maar die spesiale pleit deur Zuma dat adv. Billy Downer hom moet onttrek as die staatsaanklaer.

Masuku het Maandag aangevoer al waaroor die hof moes besluit, is wat die voordele en nadele van ’n virtuele verhoor is en daarvolgens of die saak uitgestel moet word. Hy het gesê ’n aangeklaagde persoon het die reg om die gebeure in die hof te ervaar en nie op ’n televisieskerm dop te hou nie.

Die uitstel is ’n klein prys om te betaal om die hele aangeleentheid vorentoe te vat.

Koen het in sy uitspraak opdrag gegee aan die departement van korrektiewe dienste om ’n lys saam te stel van wat die voor- en nadele sal wees indien Zuma se spesiale pleit virtueel aangehoor word wanneer die saak vir tussen 10 en 13 Augustus op die hofrol geplaas word.

By navraag het Curlewis gesê sy mening is Zuma se regspan speel vir tyd. “Koen het met sy uitspraak die regte besluit geneem. Dit is nie asof Zuma se span geen saak gehad het nie.”

Oor die impak hiervan op die verhoor, sê Curlewis die staat het bykans tien jaar gehad om sy saak haarfyn te beplan. Die getuies wat nou gereed moes wees om te getuig, sal sekerlik later ook gereed wees met die aanvang van die verhoor.

“Die uitstel is ’n klein prys om te betaal om die hele aangeleentheid vorentoe te vat,” volgens Curlewis.

Hier moet daar gelyk gegee word aan Zuma se regspan; ’n aangeklaagde moet om verskeie redes fisiek in die hof wees.

Wat betref die gebruik van oudiovisuele toerusting, sê hy dit kan nie in ’n strafregtelike verhoor gebruik word nie, behalwe in omstandighede soos bloot vir die uitstel van ’n saak, wanneer ’n aansoek om borgtog onbestrede is, of ook in gevalle waar die risiko vir ontsnapping deur ’n verdagte baie groot is.

“Hier moet daar gelyk gegee word aan Zuma se regspan; ’n aangeklaagde moet om verskeie redes fisiek in die hof wees,” sê Curlewis.

Dit gaan nie net oor die woorde wat in ’n hof gesê word nie, maar die aanklaers en verdediging lees ook baie in die optrede van die aangeklaagde in die hof. ’n Aanklaer kan uit die manier waarop ’n aangeklaagde op bepaalde vrae reageer, ook daarin lees hoe hy sy vrae verder moet voer.

In reaksie op die uitspraak het die Jacob G. Zuma-stigting op Twitter gesê die Grondwet het “uiteindelik geseëvier”, en dat daar geen virtuele hofverrigtinge in ’n strafregsaak kan wees in die afwesigheid van die aangeklaagde wat nie in staat is om met sy prokureurs te konsulteer nie.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Betaal  |  Zuma-Korrupsieverhoor  |  Prys  |  Uitstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.