Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uitvoerder mag nie met skape vertrek

Al Mawashi Suid-Afrika, die Oos-Londense lewendehawe-uitvoermaatskappy, sal minstens nog ’n maand lank vir ongeveer 70 000 skape se voer en versorging moet opdok terwyl ’n hofsaak hulle verhoed om die vee te verskeep.

’n Dringende hofinterdik deur die nasionale raad van die Suid-Afrikaanse Dierebeskermingsvereniging verbied Al Mawashi Suid-Afrika om vee tot 16 Julie op ’n vaartuig te laai en na die Midde-Ooste uit te voer. Foto: Argief

Dit kom nadat die nasionale raad van die Suid-Afrikaanse Dierebeskermingsvereniging (DBV) die afgelope week ’n ronde in die hof teen die uitvoerder gewen het.

Die hooggeregshof in Makhanda het Dinsdag ’n dringende hofinterdik teen Al Mawashi toegestaan. Die interdik, wat met koste gewen is, verhoed dat vee op hul vaartuig gelaai of verskeep mag word tot 16 Julie, wanneer die DBV se aansoek om die uitvoer van lewende hawe permanent te stop in die hof aangehoor word.

Die DBV het in ’n verklaring gesê hul dringende interdikaansoek is geskoei op gronde dat die uitvoerskip Al Messilah onverwags Oos-Londen aangedoen het.

Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi Suid-Afrika, sê in ’n verklaring die provinsiale, sowel as nasionale regering was sedert middel April bewus van die verskeping wat vir Junie beplan is.

Die diere wat vir uitvoer geoormerk is se welsyn is die eerste prioriteit.

“Al Mawashi Suid-Afrika het in Maart 2020 voortgegaan met die verkryging van skape en beeste vir die verskeping in Junie 2020, om voedselsekerheid in die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA)-streek te ondersteun.”

Die diere wat vir uitvoer geoormerk is se welsyn is volgens Ally hul eerste prioriteit. Die diere sal dus verder by die Castledale Berlin-voerkraal gevoer en versorg word. Al Mawashi het nie kommentaar gelewer op wat dié bykomende maand se voerkoste behels nie.

Intussen het Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die nasionale raad, die interdik verwelkom, maar sê die geveg is ver van gewonne. “Hoewel hierdie stryd nog lank nie verby is nie, is ons verheug oor dié oorwinning.

“Ons bedank ons regspan vir hul begrip en deursettingsvermoë, Animals Australia vir hul steun en toewyding in die stryd om lewendehawe-uitvoere stop te sit, en ons ondersteuners vir hul vertroue in ons organisasie. Een stryd is gewen; dit is nou tyd om die oorlog te wen.”

Meer oor:  Dbv  |  Al Mawashi Suid-Afrika  |  Lewende Hawe  |  Uitvoerder  |  Vertrek Verbied  |  Skape
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.