Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘US nie verantwoordelik vir Afrikaans se lot’

Die feit dat ander universiteite Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf het, maak die Universiteit Stellenbosch (US) nie verantwoordelik vir die lot van die taal of om in die vraag elders in die land te voorsien nie.

Polisielede staan voor die fakulteit opvoedkunde se gebou op die Universiteit Stellenbosch (US) se hoofkampus tydens betogings deur Open Stellenbosch in 2016. Die universiteit het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad aangevoer dat hy die taalbeleid van 2014 hersien het ná klagtes dat studente wat nie Afrikaans magtig is nie, benadeel en uitgesluit word. Foto: Jaco Marais

Die US bly met sy nuwe taalbeleid verbind tot ’n veeltalige aanbod en beoog nie om met Afrikaans weg te doen nie.

So het adv. Jeremy Muller Dinsdag namens die US en die voorsitters van die US-senaat en die US-raad in die hooggeregshof in Kaapstad gesê in die saak waarin Gelyke Kanse, die US-konvokasie en ses studente vra dat die huidige taalbeleid hersien en tersyde gestel word.

Die parallelmedium-beleid is in Junie 2016 aanvaar en vanjaar in werking gestel.

Muller sê die taalbeleid van 2014 is hersien weens klagtes dat Engelstalige studente uitgesluit word en dit toegang tot verdere onderrig vir swart studente wat nie in Afrikaans kan leer nie, beperk.

Die antwoord sal nie gevind word deur retoriese vrae te stel en sekere mense wat betrokke was as demone uit te maak nie
Adv. Jeremy Muller, namens US

Hy het aangevoer dat die saak nie daaroor handel om “ou gevegte af te handel” of om Afrikaans af te skaf nie.

Dit handel slegs daaroor of die besluit om die beleid goed te keur wettig en redelik was, sê Muller. Die uitvoering van die beleid is ook nie in die saak ter sprake nie.

“Die antwoord sal nie gevind word deur retoriese vrae te stel en sekere mense wat betrokke was as demone uit te maak nie.”

Muller het daarop gewys dat Afrikaans diep gevoelens by mense oproep, nie net onder lede van die Afrikaanse gemeenskap nie.

Die beskrywing van die US as ’n histories Afrikaanse universiteit hang ook af van die weergawe van die geskiedenis waarna gekyk word omdat dit aanvanklik ’n Engelse kollege was, het hy gesê.

Hoewel dit moeilik is om ’n plek van sy geskiedenis en kultuur los te maak, soos die US van Afrikaans, kan die universiteit nie op dieselfde manier beskou word om die toekoms in te gaan nie en hy moet aanpas by nuwe omstandighede.

Volgens Muller tref die huidige beleid ’n “balans tussen verskeie oorwegings” en word Afrikaans as onderrigtaal behou waar dit prakties haalbaar is.

Oor die vorige beleid is daar aangedui dat studente wat slegs of grootliks Engels magtig is, uitgesluit voel van die kampuslewe en as hulle regstreekse tolkdienste in Afrikaanse lesings moet gebruik.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad volgehou dat hy sy taalbeleid nie uit vrees vir geweld tydens Open Stellenbosch se betogings in 2015 en 2016 gewysig het nie en dat tugstappe gedoen is teen studente wat oortree het. ’n Hofaansoek om die US-taalbeleid van 2016 te hersien en tersyde te stel word tans aangehoor. Foto: Edrea du Toit

Muller het verwys na klagtes dat Afrikaanse studente se “relatiewe tweetaligheid uitgebuit word” en dat hulle deur die taalaanbod benadeel word om plek vir ander te maak en gesê die koste sou aansienlik wees om ’n streng parallelmediumbeleid toe te pas. Dit is ook in kontras met die veeltalige en multikulturele benadering wat die US met die beleid probeer bevorder.

Regter Kate Savage het toe gevra of die koste van die beleid dan wel ’n belangrike faktor in die oorweging daarvan was nadat adv. Jan Heunis, president van US-konvokasie, vroeër gesê het dit is glo op ’n raadsvergadering oorgeslaan om “op ’n ander dag” bespreek te word.

Muller het gesê die koste was relevant in die oorweging van die beleid, maar dit was nie die enigste faktor nie.

Hy het ook gereageer op aantygings van Heunis dat die US-bestuur uit vrees vir geweld aan eise van Open Stellenbosch toegegee het en aangedui dat tugstappe teen betrokke studente gedoen is en dat sommige daarvan nog voortgaan.

Die hofverrigtinge gaan Woensdag voort.

Meer oor:  Kaapstad  |  Lot  |  Nie  |  Taal  |  Hof  |  Us  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.