Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Uyinene: Beskuldigde kan lewenslank sit

Luyanda Botha (47), die man wat daarvan aangekla word dat hy Uyinene Mrwetyana (19) by ’n poskantoor in Kaapstad verkrag en vermoor het, word deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar.

Luyanda Botha Donderdag in die beskuldigdebank in die landdroshof in Wynberg. Foto: Jaco Marais

Botha het Donderdag in die landdroshof in Wynberg verskyn op twee aanklagte van verkragting, een van moord en een van regsverydeling. Die saak is na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas waar Botha volgende Vrydag sal pleit.

Luidens die klagstaat is die minimum vonnis vir herhaaldelike verkragting met voorbedagte rade lewenslange tronkstraf.

Botha het Mrwetyana glo met sy vingers en sy penis gepenetreer, en word daarom twee maal aangekla van verkragting.

Volgens die staat het Botha ’n bekentenis afgelê en in besonderhede beskryf hoe hy Mrwetyana op 24 Augustus verkrag en vermoor het. Hy het die volgende dag van haar lyk ontslae geraak in Lingelethu-Wes, Khayelitsha.

Hiervoor staan hy tereg op ’n aanklag van regsverydeling. Luidens die klagstaat het hy “onwettig en opsetlik Mrwetyana se lyk in ’n veld gelos, ’n versnelmiddel daaroor gegooi en sy voertuig laat skoonmaak om die polisie te mislei oor die ware oorsaak van haar dood”.

Botha is einde Augustus in die vroeë oggendure in hegtenis geneem deur lede van die ondersoekspan met behulp van die Claremont-blitspatrollie.

Mrwetyana se moord het tot landwye betogings teen geweld teen vroue gelei waaraan duisende mense deelgeneem het. By een van dié betogings in Kaapstad het pres. Cyril Ramaphosa die skare toegespreek en belowe dat mense wat geweld teen vrou pleeg, swaar gestraf sal word.

Die klagstaat is onderteken deur adv. Rodney de Kock, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, wat vir die staat optree in die saak.

Luyanda Botha Donderdag in die landdroshof in Wynberg, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

* Intussen sê dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, in ’n verklaring die regering het geen sentrale stelsel om staatsamptenare met ’n misdaadgeskiedenis te identifiseer nie.

“Ná die moord op Uyinene, wat na bewering gepleeg is deur ’n poskantoorwerker wat vroeër skuldig bevind is aan gewapende roof, het die DA onmiddellik probeer uitvind hoe dit moontlik is dat iemand met so ’n skuldigbevinding in die staatsdiens kan werk,” lui die verklaring.

“Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het in antwoord op ons parlementêre vraag onthul dat inligting oor mense se misdaadgeskiedenis ‘nie op die Persal-stelsel vasgelê word nie’,” lui die verklaring.

Persal is die sentrale personeel- en salarisstelsel wat deur alle nasionale en provinsiale staatsdepartemente gebruik word om mensehulpbronne te bestuur.

Volgens Schreiber bevestig dit dat Mrwetyana se “tragiese moord die gevolg was van ’n ineenstorting van die staatsdiens”.

Mchunu het volgens Schreiber aangedui dat sy departement nou “ ’n aantal inisiatiewe van stapel sal stuur om hieraan aandag te skenk, insluitend die skep van ’n databasis van werknemers met ’n misdaadgeskiedenis”.

Botha verskyn weer Vrydag 15 November in die hooggeregshof in Kaapstad.

Meer oor:  Luyanda Botha  |  Uyinene Mrwetyana  |  Kaapstad  |  Poskantoor  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.