Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vakbond-man moet R141 000 opdok ná padwoedevoorval

’n Pretorianer wat in ’n padwoede-voorval deur sy oop motorvenster in die gesig geslaan is, moet R141 000 vergoeding van die aanrander kry.

JC Greyling

Johannes Christoffel (JC) Greyling (49) van Menlopark het Dliswa Mthi­mkhulu (48), ’n werknemer van die vakbond Popcru, hof toe geneem oor dié voorval een oggend in September 2014 in Johannesburg se spitsverkeer.

Mthimkhulu het Greyling in die druk oggendverkeer in Corlettweg deur sy motorvenster bygedam.

Greyling, wat Mthimkhulu in die Pretoriase hooggeregshof vir R265 000 gedagvaar het, het verlede jaar ’n verstekvonnis teen Mthimkhulu bekom, wat bepaal dié moet hom R141 545 betaal.

Mthimkhulu het vroeër vanjaar aansoek gedoen dat die vonnis tersyde gestel word, maar die hof het Maandag sy aansoek met koste van die rol geskrap.

Greyling is ’n senior projekbestuurder vir ’n raadgewende ingenieursfirma. Mthimkhulu, van Kempton Park, is departementshoof van Popcru se sekretariaat.

’n Kliniese sielkundige het in ’n verslag oor Greyling aan die hof gesê die aanranding het tot posttraumatiese stresversteuring en ’n depressiewe gemoedstoestand gelei.

Dliswa Mthimkhulu

Greyling was nooit voorheen betrokke by enige aanranding of geweld nie, en voor die padwoedevoorval was sy gesondheid in die algemeen goed.

Luidens die verslag was Greyling en ’n kollega die oggend van 15 September 2014 in sy Honda Ballade by die Corlettweg-afrit toe ’n sportnutsvoertuig (SNV) “in die verkeer ingedruk het”.

Greyling het sy toeter vir die SNV geblaas. Dit het toe voor Greyling stilgehou. Greyling wou by die SNV verby ry, maar die verkeer was te druk.

Volgens Greyling het die SNV hom toe van die pad begin “afstoot”. Hy het vinniger begin ry en die SNV se kantspieëltjie in die proses afgery.

In Corlettweg het die SNV hom in die druk verkeer gevolg. Die SNV het agter hom stilgehou en Mthimkhulu het na sy kar aangehardloop gekom.

Volgens die verslag was daar ’n vrou in die SNV wat na Mthimkhulu geskree het.

Greyling se venster was oop en hy het besef Mthimkhulu het ’n jagmes in sy hand. Mthimkhulu het hom gevra wat hy nou gaan doen.

Toe slaan hy Greyling in die gesig met die hef van die mes. Die vrou het uit die SNV gespring en die aanranding probeer keer.

Sy het Mthimkhulu “weggetrek” en dié het die toneel verlaat.

Greyling het aan die sielkundige gesê hy was bang Mthimkhulu steek hom met die mes.

Die sielkundige verslag sê Greyling het daarna gesukkel om te konsentreer en die voorval het oor en oor in sy kop afgespeel. Die voorval het hom rusteloos en skrikkerig gemaak.

Hy word angstig op die pad en probeer uit vrees vir nog ’n padwoedevoorval enige konflik vermy.

Hy voel “minder van ’n man” omdat hy homself nie kon beskerm nie, lui die verslag.

Greyling het in Augustus 2015 tandpyn gekry omdat hy op sy tande kners weens stres. Hy gebruik nou medikasie vir angs.

Greyling het in ’n eedsverklaring gesê sy eerste gedagte was dis ’n kaping en hy het vir sy lewe gevrees.

“In die lig van die misdaadstatistiek in Gauteng is dié emosies goed gegrond en (Mthimkhulu) moes voorsien het dat sy gedrag tot só ’n (emosionele) reaksie by my kon lei,” sê Greyling in ’n verklaring.

Die hof het Mthimkhulu se verweer in Junie verlede jaar geskrap nadat hy nie sekere dokumente vir die saak voorgelê het soos wat die hof hom beveel het nie. Die hof het daarna ’n verstekvonnis teen hom opgelê.

Mthimkhulu het in sy verweerskrif ontken dat hy Greyling hoegenaamd aangerand of gedreig het.

Meer oor:  Dliswa Mthi­Mkhulu  |  Jc Greyling  |  Pretoria  |  Padwoede  |  Skadevergoeding  |  Popceu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.