Die Valke ontken in hofstukke voor die hooggeregshof in Pretoria dat onder meer e-posse op Nomachule “Norma” Mngoma se rekenaar oor internasionale reise saam met haar man, Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, uitgewis is.
Dit spruit uit haar aansoek dat die hooggeregshof haar inhegtenisneming op 31 Julie by haar huis in Waterkloofrif, Pretoria onregmatig verklaar.
Die gronde van haar aansoek, wat Donderdag aangehoor sal word, is dat haar inhegtenisneming deel is van ’n komplot om haar te intimideer en uiteindelik onwettige toegang te kry tot haar elektroniese toestelle om spesifieke inligting uit te wis. Sy het wel op 4 Augustus haar elektroniese toestelle teruggekry nadat die Valke op 22 Julie daarop beslag gelê het.
Mngoma staan in die landdroshof in Hatfield op aanklagte van saakbeskadiging en crimen injuria tereg. Sy is tans op borgtog van R5 000 nadat sy ’n nag in die polisieselle deurgebring het.

Nomachule “Norma” Mngoma met ’n vorige hofverskyning. Foto: Daily Sun
Die aanklag van crimen injuria hou verband met beledigende SMS’e wat sy na bewering aan Peterson Siyaya, ’n vriend van Gigaba, gestuur het.
Luidens die klagstaat, wat Netwerk24 met Mngoma se eerste verskyning in die landdroshof onder oë gehad het, hou die aanklag van saakbeskadiging met die beskadiging van 'n Mercedes-Benz G-Wagon verband.
Luidens die hofstukke het Gigaba in Junie ’n klag by die Valke ingedien oor “’n dreigende gevaar op sy lewe” nadat ’n voertuig van “teenintelligensie” by sy huis opgedaag het. Hy beweer dat sy vrou die insittendes ontbied het en dat dit hom “totaal en al onveilig” in sy eie huis laat voel het.
Die Valke het Mngoma in hegtenis geneem nadat sy na bewering die luukse voertuig beskadig het wat haar man glo by Elias Thapelo Tshepe, ’n sakeman en vriend van hom, geleen het.
Mngoma voer aan die bekentenisse wat sy teenoor die Valke-ondersoekers gemaak dat sy die voertuig met ’n groenteskiller gekrap het “omdat sy geknak het”, is onwettig afgeneem.
Verder beweer sy dat e-posse wat sy ontvang en gestuur het oor internasionale reise wat sy gedurende 2015 tot 2018 saam met Gigaba onderneem het, uitgewis is. Volgens haar is ook SMS’e wat sy tussen 2014 en 2015 ontvang en gestuur het, ook uitgewis saam met foto’s wat op plaaslike en internasionale reise geneem is.

Malusi Gigaba Foto: Gallo Images
Die Valke ontken dié bewerings en meen haar aansoek is ongehoord en bloot ’n poging om die gewone prosedure deur die landdroshof in ’n strafregtelike saak te omseil.
Die Valke voer aan die aanklagte teen haar ondersoek as deel van bewerings is dat daar ’n moordkomplot teen haar man was.
Haar inhegtenisneming ná die beskadiging van die voertuig is gedoen omdat ’n moontlike skakel tussen die voorval en die beweerde sameswering tot moord ondersoek is.
“Dit was net logies dat ons besluit het om ook hierdie misdrywe te ondersoek,” aldus die Valke se hofstukke.
’n Taakspan was reeds besig om die moordkomplot te ondersoek. Dit is in Augustus 2019 op die been gebring met die uitsluitlike doel om klagte van sameswering om moord te pleeg te ondersoek.
Mngoma sal weer op 23 Oktober in die landdroshof in Hatfield op die aanklagte van crimen injuria en saakbeskadiging verskyn.