
Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, praat Dinsdag op ’n mediakonferensie. Foto: Christiaan du Plessis
Die Valke gaan sy ondersoek na of adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), meineed gepleeg het, na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwys nadat Mkhwebane gesê het sy gaan nie haar kant van die saak stel nie.
Dié ondersoek spruit uit klagtes van die DA en die burgerregte-organisasie Accountability Now nadat Mkhwebane na bewering onder eed vir die konstitusionele hof gelieg het in die saak oor haar Absa/Bankorp-verslag.
Mkhwebane het in haar verslag aanbeveel dat die Reserwebank meer as R1 miljard van Absa verhaal nadat die Reserwebank in die apartheidsjare ’n reddingsboei aan Bankorp gegee het. Absa het Bankorp later oorgeneem.
Die hoogste hof in die land het onder meer bevind Mkhwebane het te kwader trou opgetree.
Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, sê Mkhwebane het Dinsdag op ’n mediakonferensie by die OB se hoofkantoor in Pretoria gesê sy gaan nie haar kant van die saak stel nie.
Wag nog vir verklaring
“Ons wag nog die heeltyd vir haar verklaring, maar nou gaan ons die saak sonder haar verklaring na die NVG verwys. Die NVG sal dan besluit of Mkhwebane vervolg moet word al dan nie,” sê Mulaudzi.
Mulaudzi het Dinsdag in ’n verklaring uitgevaar teen Mkhwebane nadat sy op die mediakonferensie gesê het daar is sekere instellings wat misbruik word om haar “terug te kry” nadat sy ongunstige bevindinge teen sekeres gemaak het.
Sy het gesê die ondersoek teen haar word geprioritiseer terwyl meineed nie ’n “prioriteitsmisdaad” is nie.
Prioriteitsmisdaad
“Ek het al verskeie klagte by die Valke aanhangig gemaak waarvan daar tot dusver niks gekom het nie, en dit lyk nie of dit as ’n prioriteit beskou word nie,” het Mkhwebane gesê.
Mulaudzi sê die wet maak nie voorsiening vir iets soos ’n “prioriteitsmisdaad” nie.
“Al die sake wat deur haar kantoor na die Valke verwys word, kry aandag. Ons het vir die eerste keer deur die media gehoor dat die OB nie tevrede is met hoe ons die ondersoeke hanteer nie,” sê Mulaudzi.
“Die Valke sal aanhou om sy ondersoeke en funksies sonder vrees of guns te doen. Geen onregmatige verklarings sal die Valke verhoed om sy funksies onafhanklik uit te voer nie.”