Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vals BTW-eise: Bfn-sakeman mag nie pleit verander

’n Aansoek van ’n gewese hoenderboer van Bloemfontein om sy pleit op 136 aanklagte van BTW-bedrog van R60,3 miljoen van skuldig na onskuldig te verander, het in die Vrystaatse hooggeregshof misluk.

Marius Delport (37) was duidelik betrokke by die valse BTW-eise wat ingedien is, die verspreiding van die geld wat uitbetaal is en hy het ook self van die geld gebruik, het waarnemende regter Henriëtte Murray in haar uitspraak oor sy aansoek gesê.

Marius Delport Dinsdag met voetboeie aan in die Vrystaatse hooggeregshof. Foto: ALZANE NARRAIN

Sy het gesê by haar is daar geen twyfel dat hy skuldig is nie. Hy het ook nie verkeerdelik skuld op die aanklagte beken nie.

Delport en sy pa, Norman (66), se vonnisverrigtinge is tot vroeg in Desember uitgestel. Die pa, ’n oudpolisieman, het op 136 alternatiewe aanklagte skuld beken. Hulle is reeds skuldig bevind.

Hulle het albei in die spoglandgoed Woodland Hills by Bloemfontein gewoon toe hulle in hegtenis geneem is.

Murray het gesê Delport se bewering dat hy skuld beken het omdat hy vir sy ouers se lewe gevrees het, is nie redelik waar nie.

’n Blote stelling is nie genoeg om sy pleit te verander nie. Hy het geen verdere besonderhede gegee oor waar en hoe hy met sy ouers se veiligheid gedreig is nie.

In sy skriftelike pleitverduideliking sê hy dat hy vrywillig en sonder dwang skuld beken. Hy het dit ook bevestig nadat die pleitverduideliking voorgelees is. Hy het ook bevestig dat hy die aanklagte teen hom verstaan.

Murray het gesê sy is tevrede dat hy verstaan het wat hy beken het en dat die pleitverduideliking in sy opdrag opgestel is.

Hy het al in 2016 gesê hy gaan skuld beken en dat hy die een was wat die geldsake van die Delport-familietrust, die Eden Rocktrust, die Two Ships 373-maatskappy en die beslote korporasie MN Chemicals Distributors gehanteer en die valse BTW-eise ingedien het.

Adv. Wellington Sampisi tree vir die staat op. Dawie Reyneke van Regshulp SA tree namens die pa op.

* Die Delports het die bedrog van 2009 tot 2015 met vals BTW-eise deur hul maatskappy Two Ships Trading 373, die Delport-familietrust en die Eden Rocktrust gepleeg.

Meer oor:  Marius Delport  |  Hoenderboer  |  Btw-Bedrog  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.