Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Van der Leeuw-moordsaak: ‘Hoekom deel jy in buit?’

Hoekom het Idah Lebaka gedeel in die buit nadat Koos van der Leeuw daarvoor vermoor is, indien sy dan gekant was teen enige geweld in die rooftog?

Van links is die beskuldigdes Samuel Motsi, Idah Lebaka en Bibi Ngcamphalala Dinsdag in die rondgaande hof in Potchefstroom. Agter hulle sit die familie van die vermoorde Koos van der Leeuw. Van links is sy dogter, Mornette Schonfeld, en sy weduwee en seun, Marietjie en Karel. Foto: Susan Cilliers

Dít was adv. Kobus Jacobs, vir die staat, se vraag aan Lebaka Dinsdag in die rondgaande hof in Potchefstroom. “Ek weet nie,” was haar antwoord.

Die betrokkenes het elk sowat R7 000 uit die buit gekry.

Lebaka is een van vier mense wat aangekla word weens die moord in Augustus 2015 op Van der Leeuw (68). Meer mense was vermoedelik betrokke.

Van der Leeuw was ’n gesiene beesboer van Potchefstroom toe hy een oggend by die stad se slagpale van R75 000 beroof en ten aanskoue van sy vrou, Marietjie (nou 72), doodgeskiet is. Van der Leeuw het ook een van die rowers doodgeskiet.

Lebaka beweer in haar beëdigde verklaring hoewel sy by die beplanning van die rooftog betrokke was, was die verstandhouding dat geen wapens gebruik sou word nie. Sy het glo tydens die rooftog in ’n voertuig elders in Potchefstroom gewag.

Lebaka, Tefo Mohua, Samuel Motsi en Bibi Ngcamphalala ontken skuld op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Hul verhoor het begin vandeesweek hervat ná verskeie vertragings sedert die verhoor in Maart 2018 begin het. Jacobs het Dinsdag gesê dit is weens faktore buite die staat se beheer.

“Borgtog moes nooit vir Mohua en Motsi toegestaan geword het nie, want dis hulle wat om die beurt siek is. Dít en die dood van Mohua se regsverteenwoordiger het tot vertragings gelei omdat die hofrekord vir sy nuwe advokaat oorgetik moes word.”

Idah Lebaka en Bibi Ngcamphalala Dinsdag in die rondgaande hof in Potchefstroom. Laasgenoemde beweer hy was nie by die rooftog betrokke nie. Foto: Susan Cilliers

Regter Steph Bezuidenhout het Dinsdag gesê die verhoor sal ingevolge tersaaklike wetgewing wel voortgaan, al is Mohua nie in die hof nie. Hy het Maandag nie opgedaag nie. Mohua het eers laatmiddag, nadat die hof verdaag het, per e-pos ’n siekbrief aan adv. Khomotso Tlouane, sy regsverteenwoordiger, gestuur. Dis tot Woensdag geldig.

Die vermoorde Koos van der Leeuw se weduwee, Marietjie (middel), seun, Karel (regs), en dogter, Mornette Schonfeld in die hof. Foto: Susan Cilliers

Jacobs het Lebaka Dinsdag gekruisondervra. Sy beweer Motsi, wat ten tyde van die rooftog by die slagpale gewerk het, het haar genader en gevra om te help om mense te kry wat ’n rooftog by sy werkplek kon uitvoer. Hy het glo aan haar gesê wapens sou nie nodig wees nie omdat die slagoffer ’n bejaarde man is en daar geen veiligheidskameras op die perseel is nie.

Jacobs wou by Lebaka weet hoe sy kon dink enige rooftog kan sonder wapens uitgevoer word, terwyl hulle vooraf geweet het die bejaarde en nog ’n man sou saam met ’n veiligheidswag op die perseel wees waar die kontant oorhandig is.

Die vermoorde, Koos van der Leeuw.

Lebaka het volgehou sy het geglo die ander betrokkenes sal hou by die ooreenkoms dat geen wapens gebruik sal word nie. Jacobs het egter gesê sy kon onmoontlik weet of die slagoffer en rowers gewapen sou wees (wat toe wel die geval was) en moes daarom kon voorsien iemand kon sterf.

Lebaka het getuig sy het “sleg gevoel” toe sy en van die ander betrokkenes kort ná die rooftog verby die slagpale ry en sien iemand lê gewond op die grond.

“Hoekom het jy jou nie toe van die situasie gedistansieer nie, maar saam met die ander na Johannesburg gery waar julle die buit verdeel het?” wou Jacobs Dinsdag weet.

“Jy het dan getuig jy sou nooit deel wees van die rooftog indien jy geweet het geweld sou gebruik word nie?”

Lebaka het geantwoord die gebeure het haar onverhoeds betrap, dat sy reeds in die voertuig was en dit vinnig gery het.

Die verhoor hervat Donderdag. Mohua het onderneem om dan weer in die hof te wees.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Moord  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.