Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Van rol geskrap – maar regsvrou weer in hof oor bedrog

’n Prokureur van Port Elizabeth wat van die prokureursrol geskrap is nadat sy aan diefstal skuldig bevind is, het Dinsdag weer in die beskuldigdebank ingeskuif.

Anna Johanna Swanepoel – oftewel Anne Swanepoel soos sy bekend staan – staan nou in die handelshof in Port Elizabeth tereg op aanklagte van bedrog, minagting van die hof, ’n oortreding van die Wet op Prokureurs en selfs diefstal van trustgeld.

Anna Johanna Swanepoel het glo haar kliënte bedrieg. Foto: Lulama Zenzile

Swanepoel het haar na bewering steeds as prokureur voorgedoen en het talle sake namens kliënte behartig nadat die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) haar in 2015 van die prokureursrol geskrap het.

Sy is van die rol geskrap nadat sy daaraan skuldig bevind is dat sy R90 000 van ’n kliënt gesteel het. Swanepoel is hiervoor tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis.

Swanepoel het nooit skriftelike toestemming van die Kaapse Regsvereniging gekry om weer as praktiserende prokureur te werk nie, lui die huidige klagstaat.

Sy word daarvan aangekla dat sy in 2015 en 2016 geld van minstens vier kliënte ingevorder het vir onder meer konsultasies, die instelling van ’n eis, dat sy opgetree het as opdraggewende prokureur, of dat sy self vir kliënte opgetree het.

Luidens die klagstaat het Swanepoel in November 2016 sowat R56 000 by ’n kliënt gesteel toe sy ’n verkoopkontrak van ’n huis behartig het.

Die broer en suster wat Swanepoel aangestel het om die verkoopkontrak te behartig, het Dinsdag getuig.

Abigail le Roux en haar broer, Lawrence Meiring, het besluit om hul oorlede ma se huis in Sanctor ná haar dood te verkoop.

Le Roux, Meiring, en hul ander suster, Kaylene Taylor, het elk ’n gelyke aandeel van die huis geërf, maar Taylor wou nie die huis verkoop nie.

Le Roux en Meiring het Swanepoel se hulp ingewin toe Taylor vasskop om die koop te laat deurgaan en om ’n uitsettingsbevel teen haar te kry.

Toe die huis verkoop is, het Le Roux en Meiring hul deel van die geld ontvang, maar Swanepoel het na bewering Taylor se R56 000 in haar besit gehou totdat Taylor die huis ontruim.

Die staat beweer Swanepoel het Taylor se deel vir eie gewin gebruik. Die huis is ook nooit in die nuwe koper se naam geregistreer nie.

Meiring het Dinsdag getuig Swanepoel het hom voorheen in ’n onderhoudsaak verteenwoordig.

Hy het besluit om haar dienste te gebruik met die kooptransaksie. Hy het in sy onderneming sakekaartjies vir haar vervaardig.

Volgens Meiring het hy nie destyds geweet Swanepoel mag net regsadvies gee, maar nie praktiseer nie.

Swanepoel se prokureur, Alwyn Griebenow, het dit tydens kruisverhoor aan Meiring gestel dat sy kliënt Taylor se deel in kontant aan hom oorbetaal het.

Volgens Griebenow het Swanepoel dit gedoen nadat Meiring aan haar gesê het Taylor is heuning om die mond gesmeer en dat sy toe wel ingestem het.

Meiring het dié stelling ten sterkste ontken en het Swanepoel as ’n leuenaar bestempel.

Griebenow het ook gesê Swanepoel het dit uit die staanspoor aan Meiring, Le Roux en die nuwe koper duidelik gemaak dat sy net regsadvies mag gee en nie ’n prokureur is nie.

Hy sê ook Swanepoel het al die partye ingelig dat sy die koopkontrak gaan opstel, maar dat sy die dienste van ’n ander prokureur sou inwin waar nodig.

Die saak duur voort.

  • Swanepoel het voorheen een van wyle Jayde Panayiotou se vermeende moordenaars, Sizwe Vumazonke, verteenwoordig. Hy is in die hospitaal dood voordat die verhoor van haar moordenaars begin het.
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Hof  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.