Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vanderbijl-ontvoering: Oud-onnie ‘vind berusting’

Tharina Human (27), een van die beskuldigdes in die hofsaak oor die ontvoering van ’n sesjarige meisie van Vanderbijlpark, “het berusting gevind in die regstelsel”.

Die voormalige gr. RR-juffrou Tharina Human Dinsdag in die hof saam het haar medebeskuldigdes, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi. Foto: Isabel Venter

Riaan Botha, Human se pa, was Dinsdag egter nog emosioneel toe hy oor sy dogter begin praat. “Dit gaan goed met haar in die tronk, die Here is haar genadig. Sy besef die hofsaak moet sy verloop neem en sy berus daarby,” sê Botha.

Hy het met die media gepraat nadat hy sy dogter saam met haar dogter en haar ma in die hofselle besoek het. Human en haar drie medebeskuldigdes het Dinsdag weer in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn.

Human, wie se hare nou rooibruin is, het in die hof langs Laetitia Nel (40) gesit en skerts terwyl hulle gewag het dat die verrigtinge begin. Hul medebeskuldigdes, Pieter van Zyl (50) en Bafokeng Molemohi (24), het stil langs hulle gesit.

Die vier staan tereg op aanklagte van sameswering om ’n volwasse vrou te ontvoer, die ontvoering van die sesjarige meisie en poging tot afpersing.

Dit was reeds die tweede keer vanjaar dat die saak uitgestel is sodat ’n verhoordatum vasgestel kan word, maar dit is wéér uitgestel.

Luanda Ngcobo, die staatsaanklaer, het verduidelik dat ’n hooggeregshofdatum nog nie beskikbaar is nie.

David Mey, Human se regsverteenwoordiger, het in die hof gesê hy is daarvan bewus dat die polisie nog wag vir ’n uitstaande DNS-verslag.

Thabelo Tshitaka, Van Zyl se regsverteenwoordiger, sê sy kliënt wil ’n nuwe borgtogaansoek indien.

Volgens Tshitaka is daar nuwe feite wat in sy kliënt se guns tel. Hy wou nie die hof dadelik in sy vertroue neem oor wat dié nuwe feite is nie omdat hy nog wag op die oorkonde van die vorige borgtogaansoek.

Tharina Human konsulteer Dinsdag met David Mey, haar regsverteenwoordiger. Langs haar sit, van links, haar medebeskuldigdes Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi. Foto: Isabel Venter
Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi word daarvan beskuldig dat hulle ’n sesjarige meisie van Vanderbijlpark in September 2019 ontvoer het. Foto: Isabel Venter

Landdros Husain Khota het ingestem dat Tshitaka hom met die volgende verskyning hieroor kan toespreek. ’n Besluit sal dan geneem word of daar wel gronde is vir ’n nuwe borgtogaansoek.

Die staat voer aan dat Van Zyl in Augustus 2019 deur Human gewerf is om die ontvoering uit te voer.

Human, Nel en Van Zyl het glo eers probeer om Hester Susanna Strydom, Human se skoonsuster, te ontvoer.

Hierdie poging het glo misluk, waarna hul fokus verskuif het na die sesjarige meisie.

Die kind is voor ’n skool in Vanderbijlpark uit haar ma se hande gegryp en in ’n wit Fortuner gelaai. Human was ’n gr. RR-onderwyseres by dié skool.

Die kind is die volgende oggend opgespoor. Haar ouers was Dinsdag teenwoordig in die hof, maar het nie met die media gepraat nie.

Die saak is tot Maart vir ’n hooggeregshofdatum uitgestel. Human en die twee mans bly in aanhouding nadat hul borgtogaansoek vroeër geweier is. Nel se borgtog van R25 000 is verleng.

* Die sesjarige meisie se naam word nie genoem nie, nadat ’n bevel van die konstitusionele hof op 4 Desember in werking getree het waarkragtens minderjarige slagoffers in ’n strafsaak nie geïdentifiseer mag word nie.

Meer oor:  Pieter Van Zyl  |  Laetitia Nel  |  Tharina Human  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.