Dit kan moontlik nog maande neem voordat die verhoor kan begin van die vier mense wat na bewering ’n sesjarige meisie in September verlede jaar in Vanderbijlpark ontvoer het.
Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi het Dinsdag weer vlugtig in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn.
Hulle staan op aanklagte van sameswering tot ontvoering, ontvoering en poging tot afpersing tereg.

Tharina Human het weer met ’n nuwe haarkleur in die hof verskyn. Sy het eers blonde hare gehad, en met haar hofverskyning in Januarie was dit swart gekleur. Dinsdagoggend was haar hare rooibruin.Foto: Isabel Venter
Volgens David Mey, Human se regsverteenwoordiger, is ’n DNS-verslag nog uitstaande.
Van Zyl se prokureur het ook aangedui dat hy ’n tweede borgtogaansoek wil bring, maar hy wag steeds op die hof vir die oorkondes.
Dit is die tweede keer hierdie jaar dat die saak uitgestel is sodat ’n verhoordatum vasgestel kan word, maar dit is weer eens uitgestel.

Human konsulteer met haar regsverteenwoordiger. Foto: Isabel Venter
Die vier beskuldigdes is verlede jaar kort ná mekaar in hegtenis geneem nadat die kind voor ’n skool in Vanderbijlpark uit haar ma se hande gegryp en in ’n wit Fortuner gelaai is.
Human was ’n gr. RR-onderwyseres by dié skool.
Die kind is die volgende oggend opgespoor.
Die saak is tot Maart uitgestel.
Human en die twee mans bly in aanhouding nadat hulle voorheen borgtog geweier is. Nel se borgtog van R25 000 is verleng.

Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi het Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn. Foto: Isabel Venter
* Die kind mag kragtens nuwe wetgewing nie geïdentifiseer word nie.