Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vanderbijlpark-ontvoering: ‘R2 m. of jou dogter kry ’n koeël’

“R2 miljoen of jou dogter kry ’n koeël.”

Dit was glo die eis wat Bafokeng Molemohi aan die pa van ’n sesjarige meisie gestel het kort nadat die kind voor ’n skool in Vanderbijlpark uit haar ma se arms gepluk en ontvoer is.

Dit blyk uit hofstukke dat die meisie die ontvoerders se tweede keuse was, nadat hul eerste beoogde slagoffer vermoedelik onwetend hul planne gefnuik het.

Die akte van beskuldiging wat hierdie inligting bevat, is Donderdag in die landdroshof in Vanderbijlpark op Tharina Human (27), Laetitia Nel (40), Pieter van Zyl (50) en Molemohi (24) beteken.

Hiervolgens sal Human, ’n voormalige gr. RR-onderwyseres, en haar medebeskuldigdes op aanklagte van sameswering om ’n volwasse vrou te ontvoer, ontvoering van die sesjarige en poging tot afpersing teregstaan.

Human, deftig geklee en met haar eens blonde hare nou donker gekleur, Nel, op haar beurt nou ’n blondine, en die twee mans het Donderdag oogkontak met die meisie se ouers, wat soos altyd voor in die openbare galery gesit het, vermy, terwyl Luanda Ngcobo, die staatsaanklaer, aan landdros Martin Snygans verduidelik het dat, hoewel die akte gereed is, ’n verhoordatum nog bepaal moet word.

Die voormalige gr. RR-juffrou Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi tydens hul verskyning Donderdag in die landdroshof in Vanderbijlpark. Foto: Dennis Delport

Luidens die akte sal die staat tydens die verhoor aanvoer dat Human in Augustus verlede jaar vir Nel genader het, omdat eersgenoemde geldelike probleme gehad het en hulp benodig met “ ’n ontvoering om geld te maak”.

Nel het toe glo vir Van Zyl “gewerf” om die ontvoering uit te voer.

Die drie het na bewering saamgesweer om Hester Susanna Strydom te ontvoer.

Die akte lui dat Strydom Human se skoonsuster is, terwyl ’n bron na aan die familie beweer sy is eintlik Human se broer se gewese meisie en ma van sy kind.

Die plan was glo om die broer af te pers om vir Strydom se vrylating te betaal.

“Beskuldigde drie (Van Zyl) het die vrou (Strydom) gebel, voorgegee hy is haar kind se skoolhoof en ’n vergadering met haar versoek om haar te lok na ’n plek om haar te ontvoer.

“Die klaagster (Strydom) het nie gehoor gegee aan die versoek nie en die plan het misluk,” lui die hofdokument.

Human het toe na bewering aan haar medebeskuldigdes gesê die sesjarige meisie se familie is “ryk” en hulle moet haar ontvoer.

Die akte som dit dan soos volg op: Op 2 September 2019 het Nel haar wit Toyota Fortuner vir die ontvoering beskikbaar gestel. Van Zyl en Molemohi het met die voertuig, wat Van Zyl bestuur het, na die kind se skool gery.

Die ma van die dogtertjie het voor die laerskool stilgehou waar haar kind ’n gr. R-leerling is. Van Zyl het, luidens die akte, agter haar voertuig gestop waarna Molemohi uitgespring, die ma weggestamp, die kind gegryp en die Fortuner weggejaag het.

“Later daardie oggend het beskuldigde vier (Molemohi) die kind se pa gebel en betaling van R2 000 000 geëis as hy sy dogter wou terughê. Die pa is voorts gedreig dat, sou hy nie die geld betaal nie, sy dogter ’n koeël sou kry.”

Die hofdokument verduidelik verder hoe die meisie in die donker oggendure van 3 September verlede jaar alleen in ’n straat afgelaai is, sonder dat die losprys betaal is.

Die saak is tot Februarie vir ’n hooggeregshofdatum uitgestel.

Human en die twee mans bly in aanhouding nadat hulle voorheen borgtog geweier is. Nel se borgtog van R25 000 is verleng.

* Die sesjarige meisie se naam word nie genoem nie, nadat ’n bevel van die konstitusionele hof op 4 Desember in werking getree het wat bepaal dat minderjarige slagoffers in ’n strafsaak nie geïdentifiseer mag word nie.

Meer oor:  Pieter Van Zyl  |  Laetitia Nel  |  Tharina Human  |  Vanderbijlpark  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.