Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
VBS: Barette pronk dalk in tronk

Digitale transaksies met die VBS Mutual Bank waarvan die inligting “nie sommer uitgewis kan word nie” kan daartoe lei dat Julius Malema, EFF-leier, en sy adjunk, Floyd Shivambu, se turf sit.

Die EFF se adjunkleier Floyd Shivambu (links) en Julius Malema, hoofleier. Foto: Felix Dlangamandla

Pauli van Wyk, ondersoekende joernalis by die Daily Maverick wat die VBS-bankskandaal oopgevlek het, sê die EFF-leiers “kan maar op en af spring, die bewyse teen hulle is klinkklaar”.

Sewe gewese VBS-amptenare is Woensdag deur die nasionale vervolgingsgesag vasgetrek. Van Wyk, ’n lid van die Daily Maverick se ondersoekspan Scorpio, sê hoe meer geraas die EFF-leiers maak hoe angstiger lyk hulle.

Nadat adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), die afgelope week gesê het die VBS-skandaal is die grootste “rooftog” van sy soort in Suid-Afrika se geskiedenis, het Shivambu onder meer op Twitter geskryf: “Wow! So die miljarde wat geplunder is onder apartheid, die miljarde van werkers se pensioene wat verlore is weens Steinhoff . . . die CR17-miljarde en die Grindrod-toelaes-miljarde tel nie in die boeke van die Jamnadas NDOV nie?”

“Jamnadas” is ’n afwysende verwysing na Pravin Gordhan, wie se middelnaam Jamnadas is, en wat die EFF-leiers vir Indiërs gebruik wat hulle nie goedgesind is nie.

Van Wyk sê dis hoe bang mense praat.

Hulle staan tereg op 47 klagte.

“In dié stadium kyk die SA Inkomstediens en die NVG na hulle, so hulle weet hulle het probleme. Dis ook hoekom hulle die NVG en die regters van die land aanval. Dis ’n aanduiding hulle weet hulle is in die moeilikheid.”

Die Valke en NVG sê nog individue wat betrokke was by die R2,3 miljard-bankskandaal word binnekort vasgetrek.

Een van dié wat Woensdagoggend in hegtenis geneem is, is Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS wat glo honderdmiljoene van die gestroopte geld gekry het.

Beskuldigde nr. 3, Philip Truter, was in kwarantyn nadat hy glo positief getoets het vir Covid-19 en het nie Donderdag saam met die ander ses in die streekhof in Palm Ridge in Gauteng verskyn nie. Borgtog van R100 000 elk is aan hulle toegestaan.

Truter was saam met Andile Ramavhunga VBS se finansiële hoof. Die ander is Phophi Mukhodobwane, Nhlanhla (Sipho) Malaba, lt.genl. Phalaphala Avhashoni Ramikosi, Ernest Nesane en Paul Magula.

Hulle staan tereg op 47 klagte van bedrog, korrupsie, diefstal en geldverduistering.

Pauli van Wyk

Die VBS-vervolging word veral fyn dopgehou omdat dit implikasies vir Malema en Shivambu se politieke ambisies kan hê. Die joernalis Max du Preez het Vrydag in Vrye Weekblad voorspel die politieke temperatuur in die land sal daarom in die komende maande beduidend styg.

“Al bly net die helfte van die getuienis wat deur Pauli van Wyk ontbloot is in die hof staande, gaan Malema en Shivambu vir baie lank tronk toe gestuur word – en dit sal die politieke toneel in Suid-Afrika fundamenteel verander,” het Du Preez geskryf.

Adv. Terry Motau het sowat twee jaar gelede in ’n verslag getoon hoe R2,3 miljard tussen 2014 en 2018 by VBS gesteel is.

Die bank is op 11 Maart 2018 deur die Reserwebank onder kuratorskap geplaas en meer as 22 000 deposante, onder meer stokvels, is in die steek gelaat.

Amptenare is met omkoopgeld oorreed om munisipale geld by VBS te belê en meer as 20 munisipaliteite van vier provinsies het geld verloor.

VBS was voorheen bekend as die Venda Bouvereniging en het glo ook aan oudpres. Jacob Zuma geld geleen om R7,2 miljoen terug te betaal nadat hy gedwing is om self vir sekere verbeterings aan Nkandla op te dok.

Nadat die Reserwebank ingegryp het, is Motau opdrag gegee om die saak te ondersoek. In die verslag “The Great Bank Heist” het hy bevind VBS is “tot in sy kern verrot” en kan nie gered word nie.

Die DA het in November 2018 strafregtelike klagte teen die EFF ingedien ná nuwe onthullings dat die party “direk baat gevind het” by die plundering van VBS.

In ’n verdoemende verslag deur die Reserwebank is ook onthul Shivambu se broer Brian se maatskappy Sgameka Projects het meer as R16 miljoen van die bank ontvang. Floyd het glo R10 miljoen daarvan gekry en die EFF sowat R1 miljoen.

Die party bestempel die bewerings as “ ’n aanval deur die vyand” en verwerp dit.

VBS-geld is voorts glo na Malema en die EFF oorgedra deur twee maatskappye wat onderskeidelik deur Brian Shivambu en Malema se neef Matsobane Phaleng bestuur is.

Scorpio het gevind minstens R5,3 miljoen van Sgameka se R16 miljoen is na Phaleng se Mahuna Investments oorgedra. Mahuna en Sgameka was glo net frontmaatskappye wat gebruik is om geld te kan rondskuif.

Volgens die Daily Maverick is R1,8 miljoen se VBS-geld via skynmaatskappye in die EFF se koffers gestort. Daarbenewens is R430 000 bestee aan ’n weelderige huis in Sandown, Johannesburg, waar Malema ’n ruk gewoon het. Dié eiendom is later vir R5 250 000 aan die EFF verkoop.

Scorpio het ’n aantal bankstate van Mahuna Investments ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat Malema ’n bankkaart gebruik het wat aan die maatskappy behoort.

Die EFF het Woensdag se inhegtenisnemings verwelkom en gesê dit bied ’n geleentheid om “harde feite” in ’n “neutrale” hof voor te lê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.