Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
VBS-skandaal: 3 van ANC in hof

Die tesourier-generaal van die ANC in Limpopo, ’n oudleier van die ANC-jeugliga in die provinsie en die munisipale bestuurder van die Collins Chabane-munisipaliteit in Malamulele het Vrydag in verband met die VBS Mutual Bank-skandaal in die handelshof in Johannesburg verskyn.

Die munisipale bestuurder Tsakani Charlotte Ngobeni het glo die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur oortree toe sy R120 miljoen in Oktober 2017 by VBS belê het. Sy staan ook op aanklag van korrupsie en geldwassery tereg.

Charlotte Ngobeni, munisipale bestuurder van die Collins Chabane-munisipaliteit.

Tussen 2013 en 2018 het 21 munisipaliteite in Limpopo, Gauteng en Noordwes R1,5 miljard onwettig by VBS belê. Munisipaliteite mag nie by ’n onderlinge bank belê nie.

Ngobeni is die tweede munisipale amptenaar wat weens die VBS-skandaal – waarin R2,2 miljard se spaargeld van veral bejaardes en arm mense in Limpopo gesteel is – in hegtenis geneem is.

Matthys Wienekus (64), voormalige waarnemende finansiële hoof van die Merafong-munisipaliteit, is ook op aanklag van die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur in hegtenis geneem. Hy het glo R50 miljoen van dié munisipaliteit in VBS belê.

Sewe mense het reeds verlede jaar weens die beweerde plundering van VBS in die handelshof verskyn wat in die landdroshof in Palm Ridge is.

Luidens die klagstaat het Ngobeni glo R51 196 tussen 28 en 30 Oktober 2017 as vergoeding gekry omdat sy die munisipale geld by VBS belê het. Dié bedrag is glo uit die Moshate Investment Group se FNB-bankrekening aan Ngobeni betaal. Die Moshate Investment Group behoort aan Kabelo Matsepe (29), oud-ANC-jeugligaleier in Limpopo.

Matsepe is Donderdag in hegtenis geneem en het Vrydag in die landdroshof in Palm Ridge verskyn.

Danny Msiza (53), ANC-tesourier-generaal in Limpopo.

Ngobeni het die R51 196 glo gebruik vir ’n pamperlangsessie by die Fairlawns-boetiekhotel in Morningside wat verblyf, etes, spasessies en spaprodukte ingesluit het.

Matsepe en nog 13 medebeskuldigdes staan tereg op 188 aanklagte van rampokkery, korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery wat glo verbind kan word met die VBS-korrupsieskandaal.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê hulle het VBS glo uit miljarde rande geswendel.

Luidens die klagstaat het Matsepe in Januarie 2018 glo ’n TAG Heuer-dameshorlosie vir R28 500 by Arthur Kaplan-juweliers in die Mall of Africa gekoop. Matsepe het die horlosie glo op 30 Januarie vir Ngobeni in Polokwane as ’n geskenk gegee.

Op 31 Oktober 2017 is ’n kredietfasiliteit van R1 388 899,54 glo op Ngobeni se VBS-bankrekening beskikbaar gemaak sodat sy ’n Range Rover Velar 3.0 DSE kon koop.

Ngobeni is op borgtog van R50 000 vrygelaat en moet op 6 Mei weer in die landdroshof in Palm Ridge verskyn.

Die res van die beskuldigdes wat Vrydag in die landdroshof verskyn het, is Mulimisi Maposa (49), hoofbestuurder van VBS wat vir kredietgeriewe verantwoordelik was, Mmbulaheni Madzonga (53), oudbedryfshoof van VBS en uitvoerende hoof van Vele Investments, en Danny Msiza (53), ANC-tesourier-generaal in Limpopo.

Drie kommissieagente, Ralliom Razwinane (39), Takunda Mucheke (37) en Tshianeo Madadzhe (37), het ook in die hof verskyn.

Drie van die beskuldigdes is op borgtog van R50 000 vrygelaat en vier, onder wie Msiza en Matsepe, op R100 000. Hulle moet op 26 Maart weer in die landdroshof in Palm Ridge verskyn.

Meer oor:  Malamulele  |  Skandaal  |  Vbs  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.