Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vearey moet beskerming kry, gelas hof
Jeremy Vearey Foto: Deon Raath

Die polisie het ’n opstopper in die hof gekry toe Jeremy Vearey, voormalige Wes-Kaapse speurhoof, se dringende aansoek dat sy beskerming heringestel moet word, Donderdag toegestaan is.

Sy beskerming is op 30 Junie onttrek.

Luidens die tussentydse bevel van regter Vincent Saldanha in die hooggeregshof moet die polisie, in dié geval genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, en lt.genl. Thembisile Patekile, Vearey se beskermingsdienste onmiddellik herinstel. Patekile is die Wes-Kaap se nuut aangestelde polisiehoof.

Twee lede van die taktiese reaksie-eenheid (TRT) wat goedgekeur en ingelig is oor die dreigemente teen Vearey, moet aangewys word om hom te beskerm. Daarby moet die polisie ook wanneer Vearey moet reis om in hofsake te getuig en vir ander noodsaaklike reise vier lede van dié eenheid aan hom beskikbaar stel. Dit moet egter alles vooraf gereël word.

Saldanha het in sy uitspraak gesê sou Vearey heraangestel word in die polisie, sal sy beskerming voortgaan, soos vereis in die polisie se veiligheidsbeleid van 2019.

Die bevel is ook van toepassing hangende enige appèlaansoek of hersieningsaansoek van Vearey en/of die polisie by die bedingingsraad vir die veiligheidsektor.

Vearey het hom op 6 Junie, terwyl hy in ’n Kaapstadse hospitaal aan ’n ventilator gekoppel was, tot die hooggeregshof gewend nadat sy beskermingsdienste deur Patekile opgehef is. Hy het in sy hofstukke gevra dat die hof Patekile se besluit tersyde stel.

Vearey was in die hospitaal toe sy vriend en eertydse kollega lt.genl. Peter Jacobs hom telefonies ingelig het dat sy beskerming onttrek is.

In daaropvolgende hofstukke wat by die hooggeregshof ingedien is, het die staatsprokureur op 7 Julie ’n kennisgewing dat hulle Vearey se aansoek gaan teenstaan by die hof ingedien.

Op 8 Julie het die staatsprokureur gesê dat Sitole, die tweede respondent in die aansoek, aangedui het dat hy Vearey se versoek vir die herinstelling van sy beskermingsdienste sal heroorweeg as hy op 9 Julie teen 09:30 ’n geskrewe aansoek daarvoor kry.

Sou geen aansoek ontvang word nie, sou die polisie voortgaan om hul verklaring waarin hulle Vearey se aansoek teenstaan, op 9 Julie by die hof in te dien.

Vearey se geskrewe aansoek is reeds op 8 Julie per e-pos na die kantoor van die staatsprokureur en Sitole gestuur.

Nie die kantoor van die staatsprokureur of Sitole het egter op die aansoek gereageer nie. Teen 9 Julie het hulle ook nie die opponerende verklaring by die hof ingedien nie.

Vearey het in sy aansoek aangevoer dat hy nagenoeg vyf jaar gelede deur misdaadintelligensie ingelig is dat sy lewe bedreig word.

Hy sê daar is wyd in die media berig oor sy beskerming wat onttrek is en dat hy in die hospitaal is.

Vier lyfwagte is kort daarna aan hom toegewys en ook geskikte vervoer om sy veiligheid te verseker.

Hy sê die dreigemente kom nie net van misdaadbendes nie, dit kom glo ook uit polisiegeledere.

“Die dreigemente spruit uit my pligte en verantwoordelikhede as provinsiale adjunkkommissaris (van speurdienste). Die verdagtes is hoëprofiel-bendelede én korrupte polisiebeamptes.”

In die hofstukke sê Vearey dit kan nie uitgesluit word dat die onttrekking van sy beskerming daarop gemik is om hom te ontmoedig om in hierdie hofsake te getuig nie. Volgens hom spruit die hofsake uit ondersoeke waarvan hy aan die hoof was.

Vearey meen dat sy lewe werklik en beduidend bedreig word. Hy voer verder aan dat “daar ’n georkestreerde strategie in die polisie se geledere is” om van hom, Jacobs en genl.maj. Andre Lincoln ontslae te raak.

Sitole het Vearey in Mei vanjaar ná ’n versnelde tugverhoor afgedank. Hy is van ernstige wangedrag aangekla en daarvan beskuldig dat hy met van sy Facebook-inskrywings Sitole en die polisie se naam in oneer gebring het.

Dit is intussen na die bedingingsraad vir die veiligheidsbedryf verwys en word op 28 en 29 Julie aangehoor.

Saldanha het die polisie gelas om teen 30 Julie hul opponerende verklarings in te dien. Vearey moet sy repliek teen dié verklarings teen 13 Augustus indien.

Die aansoek sal aangehoor word op ’n datum wat deur die registrateur van die hooggeregshof verskaf word.

Meer oor:  Beskerming  |  Polisie  |  Hof  |  Jeremy Vearey
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.