Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Veeagent van Bfn kry 600 j. tronkstraf

’n Voormalige veeagent van Bloemfontein wat boere met veetransaksies uit R8,6 miljoen bedrieg het, is in die hooggeregshof in Bloemfontein op 48 aanklagte van bedrog en geldwassery tot altesaam 600 jaar tronkstraf gevonnis.

Scott Brown (42), wat nou in die motorhandel in Jeffreysbaai werk, sal die verskillende vonnisse só samelopend uitdien dat hy effektief vir 15 jaar tronk toe gestuur word, het regter Sharon Chesiwe Dinsdag beveel.

Hy is op 24 aanklagte van bedrog tot 15 jaar elk en op 24 aanklagte van geldwassery tot tien jaar elk gevonnis.

Sy vrou, Zelda Maddocks (40), ’n fotograaf, is op aanklagte van geldwassery tot ’n opgeskorte vyf jaar tronkstraf en ’n verdere vonnis van korrektiewe toesig van 36 maande gevonnis. Sy moet haar teen Vrydag by ’n korrektiewe beampte in Humansdorp aanmeld.

Haar beslote korporasie, Zelchem Trading, wat ook op 24 aanklagte van geldwassery skuldig bevind is, is tot boetes van altesaam R240 000 gevonnis.

Hul skuldigbevindings spruit uit transaksies met vee wat Brown tussen Oktober 2015 en Augustus 2016 met boere in die distrikte Bloemfontein, Bultfontein en Dewetsdorp aangegaan het.

Chesiwe het in haar vonnisoplegging gesê benewens die groot droogte wat die boere beleef het, het dié bedrog hulle ’n verdere slag toegedien. Getuienis is gelewer dat van die boere sake van tussen R30 miljoen en R50 miljoen kwyt is deur die geld wat hulle uit die transaksies met Brown verloor het. Die boere het hom vertrou en geglo dat hy eerlik met hul sake doen.

Intussen was hy die baasbrein van die skema wat die boere met transaksies genader het. Hy het ’n luukse lewenstyl gehandhaaf, het sy gesê.

Chesiwe het Brown borgtog van R20 000 toegestaan nadat sy hom verlof verleen het om teen sy vonnisse te appelleer. Sy het sy aansoek om verlof om teen sy skuldigbevindings te appelleer, geweier.

Terwyl hy op borgtog uit is hangende die uitslag van sy appèlaansoek, moet hy drie keer per week by die polisiekantoor in Jeffreysbaai aanmeld. Hy mag nie die distrik van Jeffreysbaai sonder die toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie.

Vic de Bruyn van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid het aangekla. Adriaan Janse van Rensburg van Phatshoane Henney-prokureurs het vir Brown en Maddocks opgetree. Kapt. Martin Barker was die ondersoekbeampte.

Meer oor:  Scott Brown  |  Zelda Maddocks  |  Bloemfontein  |  Veeagent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.