Dr. Sameer Abbas, ’n veearts van Potchefstroom, was huiwerig om betrokke te raak by die ondersoek na die toestand van diere op Thandi Modise se plaas omdat hy ’n vlugteling uit Irak is en jare gelede in sy tuisland gemartel is.
Abbas het Woensdagoggend so getuig in die Potchefstroomse streekhof waar Modise, speaker van die Nasionale Vergadering in die parlement, teregstaan op ses aanklagte van dieremishandeling en -verwaarlosing weens die haglike toestand waarin plaasdiere in Julie 2014 op haar plaas naby die stad aangetref is.
Tientalle diere het toe reeds gevrek en meer as 224 was so swak dat hulle van kant gemaak moes word, is reeds in die verhoor getuig.

Thandi Modise en adv. Dali Mpofu SC, haar regsverteenwoordiger, Woensdag in die Potchefstroomse streekhof. Foto: Susan Cilliers
Modise ontken skuld op al die aanklagte.
Sy sê sy was nie bewus van die toestande op haar plaas nie, omdat sy ’n plaasbestuurder aangestel het om na onder meer varke, skape en bokke daar om te sien.
AfriForum vervolg Modise privaat namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) nadat die nasionale vervolgingsgesag besluit het om haar nie te vervolg nie.
Abbas het Woensdag getuig ’n plaaslike DBV-tak het hom op 6 Julie 2014 versoek om na Modise se plaas te gaan en die toestand van die diere daar te bekyk.
Abbas het getuig hy het in 1998 as vlugteling uit Irak na Suid-Afrika gekom en aanvanklik vir die staat as veearts gewerk, voordat hy in 2010 sy eie praktyk in Potchefstroom begin het.

Dr. Sameer Abbas Foto: Susan Cilliers
“Ek het nie geweet aan wie die plaas behoort toe ek daar was nie. Toe ek later uitvind dit behoort aan ’n ANC-parlementslid, was ek dadelik ongemaklik weens my verlede in Irak. Ek is (as jong man) weens my politieke oortuigings gemartel en vir drie maande in die tronk aangehou. Ek wou daarom nie betrokke raak by so iets nie.”
Abbas het getuig hy het foto’s geneem op die plaas en ’n ondersoek gedoen op een van die diere wat gevrek het. Die hof het verdaag vir die teepouse net voordat hy sou begin getuig hieroor.
Netwerk24 het in 2015 berig Abbas het op advies van die Veeaartsenykundige Verdedigingsvereniging, wat na veeartse se belange omsien, onttrek van enige betrokkenheid by die saak nadat politieke en ander belanghebbende partye hom glo gedreig het.
Abbas het dit self in ’n e-pos aan Netwerk24 geskryf.
Die NRDBV het hom daarna by die beroepsliggaam vir veeartse in Suid-Afrika gaan verkla.
Hy sou ’n verslag opstel en vir die NRDBV getuig in die strafsaak wat hulle aanhangig gemaak het, nadat die toestande op Modise se plaas ontdek is.
Abbas is daarna skuldig bevind dat hy die reëls van die professionele raad oortree het deur te onttrek. Sy lisensie om te praktiseer is vir ses maande opgeskort, maar die vonnis is vir twee jaar opgeskort.
Adv. Dali Mpofu, Modise se regsverteenwoordiger, het Woensdag gedurende kruisondervraging van Dustin Wetdewich, redakteur van die

Dustin Wetdewich, redakteur van die Potchefstroom Herald. Foto: Susan Cilliers
Potchefstroom Herald, aangevoer die saak teen Modise is polities gemotiveerd.
Hy het verwys na die feit dat Chris Hattingh, wat destyds DA-leier van die provinsie was, die plaaslike koerant laat weet het van die toestande op die plaas, waarna Wetdewich op 5 Julie daarheen is en foto’s geneem het. Klagtes oor die plaas is aanvanklik by die DBV in Parys ontvang.
Wetdewich se foto’s waarop talle plaasdiere se karkasse in verskillende stadiums van ontbinding gesien kan word, asook uitgeteerde diere, is as bewysstukke in die hof ingedien.
“Niemand het ons voorgesê wat om te berig of watter foto’s om te plaas nie,” het hy getuig.
Die saak duur voort.