Die streekhof in Ermelo het Woensdag ’n 25-jarige man tien jaar tronk toe gestuur vir veediefstal.
Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die man, Sboniso Christopher Nkambule, is skuldig bevind op aanklag van diefstal van 21 beeste op ’n plaas naby Lothair, noordoos van Ermelo.
Volgens Nyuswa het ’n veeboer op 12 Oktober 2016 gesien dat die draad by sy beeste se kamp geknip is. “Die boer het voetspore gevolg en op die beskuldigde en die gesteelde beeste afgekom. Die beskuldigde is in hegtenis geneem, maar het nie sy borgtogvoorwaardes nagekom nie. Hy is later weer in hegtenis geneem,” het Nyuswa gesê.
’n Minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar moes opgelê word, omdat die waarde van die gesteelde beeste meer as R100 000 beloop.
“Die hof het afgewyk van die voorgeskrewe vonnis omdat die beskuldigde ten tyde van die misdaad 21 jaar oud en dit sy eerste oortreding was,” het Nyuswa gesê.