
Ao. Johan Lewis (48) se lyk is Maandagaand in ’n plaasdam in Nigel gevind. Foto: Facebook
Facebook
Die polisieman van Nigel wie se lyk Maandagaand in ’n plaasdam gevind is se nadoodse ondersoek dui aan dat hy verdrink het.
Ao. Johan Lewis (48) se vrou, Jenny-Lynne (45), sê volgens ’n verslag wat sy by die polisie gekry het, het Lewis ’n verdagte agternagesit, daar was toe ’n rusie tussen die twee en Lewis het in die plaasdam beland.

Jan de Villiers tydens sy verskyning in die landdroshof in Nigel Donderdag. Foto: Brümilda Swartbooi
Dit is nog onseker wat presies gebeur het.
Intussen het Jan de Villiers (21) Donderdag in die landdroshof in Nigel op aanklag van moord op Lewis verskyn.
Jenny-Lynne het Lewis Maandagaand nog om 17:00 die laaste keer gesien toe hy by die huis kom inloer het.
Jenny-Lynne sê omstreeks 21:30 het polisiebeamptes haar by die huis ingelig dat Lewis dood is. Sy sê sy het dié aand ’n voorgevoel gehad.
“Ek het op my misdaadgroepies gelees van ’n polisieman wat dood is. Ek het toe begin rondbel, maar niemand kon my sê nie.”
Jenny-Lynne sê onder omstandighede gaan dit goed met haar en hul kinders, Jeandré (18) en Jean-Pierre (22).
Jean-Pierre is self ’n polisieman – hy is tans ’n polisiekonstabel.
Jenny-Lynne sê Lewis was haar eerste liefde. Die twee het sowat 30 jaar gelede ontmoet.
“Ek was 16 en hy was rondom 20 toe ons ontmoet. My beste vriendin in daardie tyd het langs hom in Kiblerpark gewoon. Dis wanneer ons altyd mekaar gesien het.”
Jenny-Lynne sê sy het net mooi herinneringe oor Lewis.
“Ek onthou die glimlag op sy gesig toe hy uitvind ek is swanger met ons eerste en tweede kind,” sê Jenny-Lynne.
Sy sê Lewis was baie geesdriftig. Hy was lief vir visvang, kamp en braai.
“Ek was nie lief vir visvang nie, maar ek het hom bygestaan. Jeandré was sy visvang-‘buddy’, terwyl Jean-Pierre meer soos ek was.”
Lewis was verbonde aan die Springs-polisiestasie se afdeling vir binnelandse stabiliteit.
De Villiers (21) het Donderdag met ’n formele blou hemp, das en swart broek voor landdros Goodman Sello Mokoena verskyn.
Moekoena het De Villiers se saak tot 31 Januarie vir ’n borgaansoek uitgestel.
De Villiers bly in aanhouding.
Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig ’n verbyganger het Maandag Lewis se lyk ontdek nadat hy die versteekte polisievoertuig van die pad af opgemerk het. Sy het ook bevestig dat daar nie steek- en skietwonde op Lewis se liggaam was nie. Peters sê die voorlopige ondersoek dui daarop dat Lewis in die dam gestoot is en toe verdrink het.

Nigel Community On Patrol het ’n konvooi van nagenoeg 60 voertuie deur die dorp begelei ten ere aan ao. Johan Lewis.Foto: Verskaf
Shaun Bamford, hoof van patrollies van Nigel Community On Patrol (NCOP), sê NCOP het Woensdagaand ’n konvooi met nagenoeg 60 voertuie deur die dorp begelei ter ere aan Lewis.
“Ons het by Lewis se familiehuis gestop en sy familie gevra of ons blomme voor hul deur kan neerlê. Daar was ’n paar polisiebeamptes in gewone kleredrag. Die metropolisie het die paaie afgesper”, het Bamford gesê.
Lewis se begrafnis word 22 Januarie om 10:00 by die NG-Suid in Nigel gehou.