Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verdagte in hof ná kapingsdrama naby Stanford

’n 33-jarige man sal Maandag in Hermanus se landdroshof verskyn nadat hy na bewering by ’n huis ingebreek, ’n motor gekaap en die eienaar ontvoer het.

Die voorval het Donderdag in Wortelgat naby Stanford gebeur en lede van die publiek het die polisie omstreeks 12:35 van die kaping en ontvoering in kennis gestel.

Dit blyk dat die inwoner van Wortelgat in sy motorhuis oorval is en daarna het die aanvaller hom by sy Nissan Micra ingedwing en met hom weggery om geld by ’n kitsbank in Stanford te gaan trek.

Marietjie Buhr en haar man, Willie, het op die R43 na die Franskraal-afrit ’n ongewone voorval opgemerk. Die verdagte wat daar met die Micra gestop het, het glo ’n vrou uit ’n tweede motor probeer pluk.

“Ek het eers gedink dis ’n familietwis of iets, maar toe ons naderkom, het ek besef dit is iets anders.”

Volgens Buhr het die vrou om hulp geroep. Willie het voor die aanvaller gaan stop, uitgeklim en hom aan die skouers beetgekry. Die aanvaller, wat die vrou se selfoon gegryp het, het in die Micra gespring en in die rigting van Pearly Beach weggejaag.

Buhr skryf op die Facebook-blad, “Wie maak vir Gansbaai lekker?”, dat die brandstof in die Micra vermoedelik min was en dat die verdagte daarom waarskynlik die tweede voertuig ook wou kaap.

Die Micra se eienaar, wie se hande met kabelbinders agter sy rug vasgebind was, kon in die geharwar daarin geslaag om te ontsnap. Sy hande is daarna op die toneel losgemaak.

Buhr het intussen haar skoondogter laat weet om die polisie te kontak en ’n beskrywing van die motor te gee.

Volgens haar was die man van Wortelgat glo doenig in sy motorhuis toe iemand skielik iets teen sy nek gedruk het. Dit het later geblyk dat dit ’n skerpgemaakte pyp was.

Die aanvaller het geld gesoek, maar die man het nie kontant aan hom gehad nie. Voor die ontvoering het die aanvaller die man se selfoon en skootrekenaar gevat.

Die aanvaller het vermoedelik in die onderonsie met Willie sy wapen laat val, waarna dit aan die polisie oorhandig is.

Die polisie het die verdagte later opgespoor en in hegtenis geneem.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê die Stanford-polisie ondersoek die voorval. Volgens haar sal die man op aanklagte van kaping, gewapende roof, huisbraak en die besit van gesteelde eiendom teregstaan.

Meer oor:  Stanford  |  Ontvoer  |  Kaping  |  Inbraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.