Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verdagte ‘uit op borgtog’ toe hy man glo doodskiet in winkel
Bossies blomme is destyds by die hek van die rekenaarwinkel ingedruk nadat Leon van der Merwe daar vermoor is en twee ander tydens ’n aanval gewond is. Foto: Felix Dlangamandla

Een van die verdagtes in die moord en rooftog by ’n rekenaarwinkel was vermoedelik uit op borgtog op twee ander sake toe hy en sy makkers in November glo op Compuport Computer Consulting in Pretoria toegeslaan het.

Kagiso Rancho, staatsaanklaer, het in die landdroshof in Pretoria gesê Mike Sithole het volgens inligting op die klagstaat twee hangende sake in Johannesburgse howe, waarvan minstens een ’n rooftogsaak is.

Daarby het die departement van binnelandse sake bevestig dat dié Zimbabwiër onwettig in die land is.

Sithole wil ’n borgtogaansoek bring, maar Rancho het gevra dat die saak uitgestel word om die inligting oor die beweerde twee ander sake te bevestig.

Sithole is op 7 November in hegtenis geneem ná wat getuies beskryf het as ’n bloedbad in die rekenaarwinkel in Queenswood.

Drie gewapende mans het net ná 12:30 ingestorm.

Leon van der Merwe (61), ’n klant, is tromp-op doodgeskiet toe die aanvallers by die deur in hom vasgeloop het.

Daar was 12 ander mense in die winkel.

Die eienaar, Coert Oberholzer (54), is in die rug geskiet.

Coert Oberholzer, eienaar van Compuport Computer Consulting, bedank net minder as ’n maand ná die aanval die gemeenskap, familie, polisie en nooddienste wat hulle die afgelope tyd bygestaan het. Foto: Facebook/Compuport Skermgreep

Kobus Botha (50), ’n vriend en klant, is in die arm geskiet.

Oberholzer kon dit egter regkry om self een van die aanvallers dood te skiet.

’n Ander rower, vermoedelik Sithole, het nog wild skote afgevuur voordat sy vuurwapen gestaak het en van die vroueklante en -werknemers hom oorrompel het.

Die derde aanvaller het gevlug.

Oberholzer was daardie aand vir langer as drie uur in die operasieteater.

Hy het Van der Merwe, wat ook ’n vriend was, se roudiens bygewoon nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Hoewel die slagoffers versigtig is met detail rondom die aanval omdat die hofsaak teen Sithole nog hangende is, het Oberholzer op die diens iets van Van der Merwe se waagmoed gedurende die aanval geopenbaar deur sy optrede op te som as: “ . . .jy kry Wolraad Woltemade, Rachel de Beer en Leon van der Merwe”.

Oberholzer noem die afgelope week in ’n dankie-sê-video almal wat hulle bygestaan het: “15 November sou my begrafnis gewees het” – as hy nie die aanval oorleef het nie.

Dan voeg hy by: “Op 1 November het ons die winkel se 19de bestaansjaar gevier. November was ’n heuglike maand in ons (die winkel) se geskiedenis.

“Op 7 November om 12:34 het ons lewe drasties verander met ’n knal van ’n doodskoot.”

Oberholzer noem hoe die rowers vir Van der Merwe doodgeskiet het toe hulle by die deur in hom vasgeloop het, dat die rowers daarna net aangegaan het asof niks gebeur het nie.

’n Huldeblyk aan Leon van der Merwe sluit die bedankingsvideo op die rekenaarwinkel se Facebook-blad af.Foto: Facebook/Compuport Skermgreep

Hy sê op kringtelevisie-beeldmateriaal is dit duidelik hoe personeellede afsak grond toe en aan klante beduie het om dieselfde te doen.

“Ek dink dit is deur hul (die personeel) kalm optrede dat daar geen verdere moord gepleeg is nie,” sê Oberholzer.

Hy vertel die winkel het gelyk soos “ ’n bloedbad”, hoe hy in die rug geskiet is, maar ná die operasie was sy “yster”, sy vrou, Isabel, en ander geliefdes daar om sy hand vas te hou.

Dan voeg Oberholzer effens meer gemoedelik by: “Dankie aan die gemeenskap. As patrone ons nie doodgemaak het nie, sou suiker – al die koeke en koeldrank wat aangedra is. Al die drukkies, al die liefde.”

* Sithole, van Boksburg, word deur twee aanklagte van moord, gepleeg met ’n gemeenskaplike doel tussen die verdagtes, in die gesig gestaar.

Die een moordaanklag verwys na Van der Merwe. Die ander een na die aanvaller wat op die toneel dood is.

Die staat sal aanvoer dat Sithole (en die ander aanvaller wat nog soek is) verantwoordelik is vir dié makker se dood omdat hulle moes kon voorsien het dat hul optrede iemand se lewe kon kos.

Sithole word ook van poging tot moord op onderskeidelik Oberholzer en Botha aangekla, sowel as roof met verswarende omstandighede.

’n Private advokaat het hom in die hof verteenwoordig, maar niemand kon verduidelik hoe Sithole dié kon bekostig nie.


Meer oor:  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.