Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verdagtes in Vanstadensrus-moorde gou in hof

Een van die twee vermeende moordenaars van die bekende Bruwer-egpaar van Vanstadensrus het ’n bekentenis afgelê voor ’n landdros waarin hy sy aandeel in hul koelbloedige moorde beken.

Wyle Choppie Bruwer en sy vrou, Marian.

Die ander een het uitwysings aan die polisie gedoen wat daartoe gelei het dat van die gesteelde goedere van wyle Choppie Bruwer (78) en sy vrou, Marian (68), teruggevind is.

Dít is alles deel van die staat se saak teen Motlatsi Motsetse (20) en Tsediso Matankaba (27), albei van die Kanana-woonbuurt by Vanstadensrus.

Die Bruwers is op 26 Junie verlede jaar dood op stoele vasgebind in hul huis op hul plaas Florida, sowat 3 km van die dorp, gekry.

Albei is in die kop geskiet. Hulle is die vorige dag laas lewend gesien.

Motsetse en Matankaba verskyn later vandeesmaand in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein wanneer ’n voorverhoor gehou sal word om vas te stel of alles gereed vir hul verhoor is. Dan sal ’n verhoordatum waarskynlik ook vasgestel word.

Luidens ’n opsomming van die staat se saak het ’n vingerafdruk van Motsetse, wat in die huis op Florida gekry is, tot sy inhegtenisneming gelei. Hy het toe gevra om ’n bekentenis voor ’n landdros af te lê.

Nadat Matankaba uitwysings aan die polisie gedoen het, is van die Bruwers se goed gevind. Verdere ondersoek het die polisie gelei na nog items wat uit hul huis gesteel is, sê die staat.

Ses vuurwapens wat aan die egpaar behoort het, is teruggekry.

Die egpaar se Chevrolet Spark is naby die Qibing-sokkerveld by die dorp gekry.

Luidens die klagstaat word Motsetse en Matankaba van moord, roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.

Die staat beweer dat hulle ’n gemeenskaplike doel gehad het om die misdade te pleeg en dat dit vooraf beplan was.

Die egpaar se Chevrolet Spark is naby die Qibing-sokkerveld by die dorp gekry.

Die egpaar se lyke is op die oggend van 26 Junie gekry nadat nie een van hulle opgedaag het om soos gewoonlik van hul werkers vir werk op te laai nie. Hul selfone was ook af en die werkers het toe werk toe gestap.

Die staat beweer dat hulle by huis se hek ’n paar vreemde handskoene en vreemde skoenspore gesien het.

Die egpaar se motor was ook weg. Hulle het onraad vermoed en die polisie is ontbied.

Die aanvallers het vermoedelik ’n veiligheidshek oopgebreek om in te kom.

Bruwer het nie meer self geboer nie en sy plaas uitverhuur.

Meer oor:  Choppie Bruwer  |  Marian Bruwer  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.