Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verdediging vra vir net 12 jaar vir Packham

Rob Packham staar Maandag stip voor hom uit in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Daar bestaan genoeg dwingende en wesenlike feite wat die hof in ag kan neem om Rob Packham (58) ’n ligter vonnis as 15 jaar op te lê.

Craig Webster SC, Packham se advokaat, het Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad vir regter Elize Steyn gevra om Packham net 12 jaar tronkstraf op te lê.

Die partye het hul slotbetoë gelewer.

Volgens Webster is Packham al ouer, ’n eerste oortreder en hy het geen vorige veroordelings nie.

Hy het aangevoer Packham was baie betrokke om minder bevoorregte mense, asook mense met gestremdhede, in diens te neem en op te lei om sodoende werk te kan bekom. In 2010 het Packham sy werk verloor en het deur ’n slegte finansiële tyd gegaan totdat hy as die uitvoerende bestuurder van Cape Cookies aangestel is. Hierna het hy by Twizza gewerk.

Hy het ook in 2017 by die nieregeringsorganisasie For Good as vrywilliger gewerk.

Webster sê Packham lewer ’n konstruktiewe bydrae in die gemeenskap. Hy was ’n liefdevolle pa en man en het in die verlede geen gewelddadige optrede teenoor sy familie en die gemeenskap getoon nie.

Volgens Webster was die misdrywe impulsief en nie vooraf beplan nie, “as ’n mens in ag neem hoe lomp die poging was om van die lyk en voertuig ontslae te raak”.

Die moordenaar Rob Packham draai om in die hof om te sien of sy familie hom kom ondersteun het. Foto: Jaco Marais

Die hof het bevind Packham was in ’n “stadium van woede” wat gelei het tot die dood van Gill. Die staat het ook nie aangevoer dat die moord beplan was nie.

Hoewel die minimum vonnis in hierdie geval 15 jaar is, het Webster betoog dat Kerry Meyer, ’n dogter van Packham, die hof gevra het om genade te toon, want sy wil hê haar pa moet in die toekoms deel wees van haar kinders se lewe. Meyer is in Desember getroud.

Webster het aangevoer daar bestaan wesenlike en dwingende feite wat die hof in ag kan neem om van die minimum vonnis af te wyk.

“Ons vra die hof om die vonnisse vir die twee aanklagte samelopend te maak en ’n tydperk van 12 jaar tronkstraf op te lê,” het Webster gesê.

Adv. Susan Galloway, die staatsaanklaer, het gesê indien die hof ’n swaarder vonnis wil oplê, sal lewenslange gevangenisstraf ’n gepaste vonnis wees.

Die feit dat hy ’n eerste oortreder is, is nie genoeg rede om van die minimum vonnis af te wyk nie.

Verswarende faktore, wat die staat aanvoer die hof in ag moet neem, is die feit dat Gill haar man vertrou het. Hulle was byna 30 jaar getroud en sy is op ’n baie wrede manier in haar eie huis aangeval.

’n Groep studente van City Varsity het die hofverrigtinge van Rob Packham in die hooggeregshof kom bywoon. Hulle sit almal in die openbare galery reg agter Packham.Foto: Jaco Marais

Verder het Packham nie “oop kaarte” met die hof gespeel nie en daarom sal die hof nooit weet wat die motief vir die moord was nie.

Volgens Galloway was Packham nie regtig geïnteresseerd om die huwelik te red nie.

Hy het nie sy dogters se gevoelens in ag geneem toe hy hul ma verbrand het nie. Verder, volgens Galloway, speel die buite-egtelike verhouding ’n rol in die saak. Nadat Packham vir Gill moes vertel van die verhouding, het hy ook nie die verhouding gestop nie. Hy het tyd gehad om te besin oor wat hy kon doen, maar hy het haar vermoor eerder as om te skei.

“Die uiteindelike selfsugtige en manipulerende optrede van die beskuldigde het daartoe gelei dat hy haar uit sy lewe verwyder het (omdat hy nie lief was vir haar nie, maar vir sy lewe). Dit is die ergste vorm van verraad.”

Steyn sal Packham Woensdag vonnis.

Adv. Craig Webster SC praat met sy kliënt, Rob Packham, voordat die hofverrigtinge begin. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Rob Packham
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.