Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verhoor begin ná 2016-moord op raadslid, vennoot

Die verhoor van die vyf mans wat weens die moord twee jaar gelede op Johannes Baaitjie, DA-raadslid van Daniëlskuil, en sy vennoot, Shuping Nouse, aangekla word, gaan Dinsdag in die hooggeregshof in Kimberley begin.

Die verhoor sloer reeds lank ná die moord op 18 Augustus 2016 op Baaitjie. Nouse is op 23 Augustus 2016 aan sy beserings dood.

Adv. Hannes Cloete het regter-president Pule Tlaletsi verseker die verhoor kan Dinsdag begin. Maandag is die laaste administratiewe take glo afgehandel.

Die beskuldigdes is van links Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Zonizelo Richard Magawu (ANC-kandidaat en -takvoorsitter), Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu. Foto: Charné Kemp

Die beskuldigdes, onder wie daar ’n ANC-hooggeplaaste is, is Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Zonizelo Richard Magawu (ANC-kandidaat en -takvoorsitter), Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu.

Baaitjie se lyk met skietwonde is die oggend van 18 Augustus langs die pad tussen Da­niëlskuil en Postmasburg gevind. Nouse is later aan sy skietwonde in die hospitaal dood.

Die moorde het groot opspraak verwek omdat die staat aanvoer kontrakte van R20 miljoen en die hoop op winsgewende munisipale tenders het die beskuldigdes tot die moorde gedryf. Luidens die akte van beskuldiging wou Legodu, ná verlede jaar se munisipale verkiesing, winsgewender tenders van ’n ANC-beheerde raad kry.

Sy planne is in die wiele gery nadat ’n koalisie van die DA en die Kgatelopele Community Forum die beheer van die raad by die ANC oorgeneem het.

Magawu was die administrateur en sekretaris van die plaaslike ANC-tak en ’n kandidaat vir wyk 1.

Mphondomisa, wat by ’n myn gewerk het, was ’n ANC-vrywilliger.

Baaitjie, ook ’n bouer en plaveisel-kontrakteur, is met die belofte van ’n kontrak na Postmasburg gelok en is op pad daarheen doodgeskiet.

Die beskuldigdes het die afgelope twee jaar etlike mislukte borgtogaansoeke ingedien, waarvan die laaste een ’n maande gelede afgewys is.

Hulle het ook etlike kere van regsverteenwoordiger verander, wat die verhoor vertraag het.

Die staat en Regshulp SA het moeite gedoen om afsonderlike regsverteenwoordigers van oor die land heen aan te stel sodat die verhoor spoedig afgehandel kan word.

Adv. Keageletsi Ilanga kla saam met Cloete aan. Willie Els verskyn namens Hasane, Lentswe Setouto vir Baxane, Theo Fourie vir Magawu, Heinrich Steynberg vir Mphondomisa en Shereen Easthorpe vir Legodu.

Meer oor:  Da  |  Johannes Baaitjie  |  Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.