Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verhoor van vermeende koperdiewe begin

Die verhoor van 15 mans wat deel van ’n koperdiefstalsindikaat was, het die week in die hooggeregshof in Kroonstad begin.

Die mans staan tereg op 16 aanklagte wat wissel van koperdiefstal, ontsnapping uit wettige aanhouding, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, oortredings van die Vuurwapenwet en oortredings van die Wet op georganiseerde misdaad.

Nie almal word van dieselfde misdrywe aangekla nie.

Van die sindikaatlede is in Richmond in KwaZulu-Natal aangekeer. Foto: Verskaf

Van die mans word 11 van diefstal aangekla, terwyl sewe van hulle ook van ontsnapping aangekla word.

Die mans het volgens die staat bykans R500 000 se koperkabels in veral die Vrystaatse Goudveld gesteel.

Die mans word aangekla dat hulle tussen Junie en Augustus 2015 die kabels buite verskeie dorpe soos Allanridge, Odendaalsrus, Welkom, Ventersburg, Theunissen en Senekal gesteel het.

Die meeste van die mans is tussen Augustus en Desember 2015 in hegtenis geneem.

’n Boer van Senekal, Abraham Fourie, het Dinsdag getuig oor die gebeure op 9 Januarie 2016 toe hy die mans wat uit die tronk in Senekal ontsnap het, help aankeer het.

Fourie het aanvanklik gedink die mans is net betreders en hulle aangesê om op sy bakkie te klim. Sy plaas is teen die terrein van die korrektiewe dienste in Senekal geleë.

Hy het kort hierna die tronk se sirene hoor afgaan en besef die mans is waarskynlik gevangenes wat ontsnap het. Fourie het die mans in hegtenis geneem en terug na die gevangenis gebring.

Die mans, wat ten tyde van die ontsnapping nog verhoorafwagtend was, het die bewaarders van hul selfone, geld en ander besittings beroof.

Luidens verklarings van die bewaarders het een van die aangehoudenes, Dichakane, die oggend ’n vuurwapen op die bewaarders gerig.

Die hoof van die gevangenis, Mokhane Jacob Nthoroane, het die man probeer ontwapen en is in die been gewond.

Die aangehoudenes het die bewaarders hierna in ’n kluis gedwing en toegesluit.

Die sindikaatlede het nege van die bewaarders van hul selfone en ander persoonlike besittings beroof. Hulle wou ook vuurwapens uit die DKD se kluis hê, maar hulle is danksy ’n bewaarder om die bos gelei wat gesê het daar is nie vuurwapens nie.

Die mans is Naftali Makhuvela (34), Moses Makhuvelaa (35), Clement Mbembea (44), Elvis Mchunua (44), Jonas Mkhontoa (32), Kenneth Kaitana Mhlongoa (37), Ronald Georgea (39), Alfred Masitela (40) Mncedisi Ntemo (25), James Ndlovua (26), Tsietsi Dichakane (42), Themba Mentile (37), Pule Chaile Raletsapaa (39), Nthoele Majoalea (39) en Mnyamane Sithole (26).

Die verhoor sal nog tot einde Mei voortduur.

Meer oor:  Goudveld  |  Kroonstad  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.