Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verkeersman praat oor vrou wat hom glo k-woord toesnou

Die Wes-Kaapse verkeersbeampte wat Saterdag na bewering herhaaldelik deur ’n vrou van Blue Downs, Kaapstad, gevloek en die k-woord toegesnou is, het Donderdag vir die eerste keer oor die voorval gepraat.

Thabo Namba (49), ’n senior provinsiale verkeersinspekteur, het gesê hy en kollegas was met ’n verkeersoperasie naby Hindleweg in Blue Downs besig toe die voorval gebeur het.

Die voertuig waarin die 34-jarige Sherna Michael-Chinnia glo ’n passasier was, was tweede in die ry van voertuie wat hulle afgetrek het.

Thabo Namba, ’n senior provinsiale verkeersinspekteur.

“Ek was besig om met die bestuurder van die voorste voertuig te praat toe ek die aanhoudende getoeter van die tweede voertuig hoor. Ek was bekommerd dat die mense dalk in ’n noodgeval verkeer en het vir die bestuurder van die eerste voertuig gevra om solank sy rybewys uit te haal en gesê ek is nou by hom.”

Toe hy by die tweede voertuig kom, het die bestuurder glo op hom geskreeu en gesê die verkeersbeamptes is besig om hul “tyd te mors”.

“Die passasier het oorgeleun na die bestuurderskant en op my gevloek en geskel. Sy het gesê ek is ’n k****r en dat ek k****rs laat wegkom en hulle nie aftrek nie.”

Volgens Namba was hy erg geskok oor die twee vroue in die voertuig se optrede en veral oor Michael-Chinnia se gevloek op hom.

“Ek was ontsteld, want geen mens het die reg om iemand anders hierdie woorde toe te voeg nie. Ons was net besig om ons werk te doen.”

Namba beweer dat Michael-Chinnia ook ’n vrouekollega wat saam met hom na die voertuig gestap het, gevloek het.

Sherna Michael-Chinnia. Foto: Facebook

“My kollega het haar gevra om te kalmeer, waarna sy haar ’n teef en ’n k**t, genoem het.”

Hy het daarna sy kollega gevra om haar handboeie te gaan haal. “Ons het alles volgens die prosedure gedoen. Ons het haar gewaarsku dat ons haar in hegtenis gaan neem. Ons het haar gevra om te kalmeer. Toe my kollega haar in hegtenis neem, het sy haar verskriklik teëgesit en geskop en geskreeu. Sy het almal probeer skop,” het hy gesê.

Michael-Chinnia is in hegtenis geneem en het Saterdag- en Sondagaand in die Mfuleni-polisieselle deurgebring.

Sy het Maandag in die landdroshof in Blue Downs op aanklagte van crimen injuria en verset teen inhegtenisneming verskyn. Die saak is tot 6 Desember uitgestel.

Netwerk24 kon nie vasstel of sy op borgtog of waarskuwing vrygelaat is nie.

Namba het gesê hy is ook van plan om haar by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) te verkla.

Eerw. Chris Nissen van die MRK het Dinsdag gesê hulle moet nog met Namba vergader. Volgens hom kom die gebruik van die k-woord neer op haatspraak en die saak sal, hoewel dit reeds in die hof is, na die gelykheidshof oorgeplaas word.

*Netwerk24 het Michael-Chinnia om kommentaar genader. Sy het onderneem om later kommentaar te lewer, maar het nog nie weer gereageer nie.

Meer oor:  Blue Downs  |  K-Woord  |  Crimen Injuria  |  Verkeersbeampte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.