Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verkrag, gemartel: Boervrou wag 5 j. vir geregtigheid

Vyf jaar nadat die Vrystaatse boervrou, Alison Oates (63), herhaaldelik verkrag, met messe gesteek is en met ’n strykyster gebrand is, is een van haar aanvallers lewenslank tronk toe gestuur.

“Vir my is dit emosioneel, ek voel nog nie om sjampanje te drink nie, dis nie ’n boek wat ek net kan toemaak nie maar ek is dankbaar en verlig,” het Oates, ’n beesboer, ná die verhoor gesê.

Themba Steen Makhubo en nog ’n man het Oates op 4 Oktober 2015 in haar plaashuis buite Harrismith ingewag en geld geëis. Toe sy nie vir hulle geld kon gee nie het hulle haar met ’n strykyster op haar bors gebrand, haar met messe gesteek en om die beurt verkrag.

Alison Oates (63), ’n boervrou van Harrismith moes vyf jaar wag vir geregtigheid. Foto: Facebook

Oates moes lank wag vir ’n mate van geregtigheid en talle struikelblokke oorkom voordat Makhubo Woensdag gevonnis is.

Sy sê dit was vir haar ’n uitputtende vyf jaar, veral omdat Makhubo sy bes gedoen het om die verhoor te laat sloer.

“Hy het sy prokureurs afgedank, dan weer gevra vir ’n nuwe prokureur en selfs gesê hy sal sy eie verdediging doen,” sê sy.

Makhubo, wat in dieselfde omgewing as Oates woon, was gedurende die verhoor op borgtog vrygelaat.

Sy sê die tweede aanvaller is glo deur ’n voertuig op die N3 buite Harrismith doodgery.

Streeklanddros Hein van Niekerk het Makhubo tot lewenslange gevangenisstraf vir die verkragting op Oates gevonnis. Makhubo is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Van Niekerk het in sy uitspraak gesê ernstige misdaad styg in Suid-Afrika en dit is duidelik dié misdade word dikwels met voorbedagte rade gepleeg.

Van Niekerk sê wanneer iemand gevonnis word, moet die straf as afskrikmiddel dien vir ander misdadigers en dat mense wat op plase woon as sagte teikens gesien word.

Vir my is dit emosioneel, ek voel nog nie om sjampanje te drink nie, dis nie ’n boek wat ek net kan toemaak nie maar ek is dankbaar en verlig.

Van Niekerk sê die aanval op Oates het ’n groot invloed op haar geestesgesondheid gehad en dat Makhubo geen berou getoon het nie.

Oates, ’n DA-raadslid, is deur Annette Steyn, ’n DA-parlementslid en Leona Kleynhans, ’n DA-lid van die Vrystaatse wetgewer ondersteun.

Sy sê sy het ongelooflik baie steun van haar familie, die gemeenskap, die DA en Vrystaat Landbou (VL) gekry.

Steyn sê die party het eenhede wat verhore dophou om seker te maak die belange van slagoffers van plaasmisdaad word beskerm.

Sy sê dit is ’n bekommernis dat talle beskuldigdes van geweldsmisdaad borgtog kry en hulle dan weer misdaad pleeg.

Makhubo het twee vorige veroordelings, een vir veediefstal en een vir aanranding.

Meer oor:  Vrystaat  |  Lewenslank  |  Boervrou  |  Gemartel  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.