Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verkragte vrou se woorde klink ‘vanuit graf’ in hof op

Asof uit haar graf het Alice Maree (21) se woorde in die hooggeregshof in Bloemfontein opgeklink toe haar polisieverklaring, waarin sy vertel hoe sy verskeie kere helder oordag in ’n prokureurskantoor in Theunissen verkrag is, voorgelees is.

Die trane het by tye oor die wange geloop van konst. Ella Prinsloo van die polisie op dié Vrystaatse dorp terwyl sy die verklaring voorgelees het wat sy self van dié ontvangsdame van Hewetson-prokureurs op die dorp afgeneem het.

Alice Maree Foto: Verskaf

Johannes Mokati (21) van Theunissen het voor regter Abe Mathebula skuld op die aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede ontken.

Die staat beweer Alice is twee weke nadat sy verkrag is aan komplikasies as gevolg van die verkragting dood.

In die verklaring, wat voorlopig as bewysstuk toegelaat is, vertel Alice hoe ’n man op 9 Februarie verlede jaar by die prokureurskantore ingekom het en ’n mes teen haar keel gedruk het.

Hy wou geld, haar bankkaart en selfoon hê.

“Ek het gesê ek het nie my bankkaart nie. Hy kan my selfoon vat. Hy moet my net nie seermaak nie.

“Ek het oor en oor vir hom gesê om my net nie seer te maak nie.”

Hy het haar gedwing om die deur toe te maak, haar klere uit te trek en het haar daarna op ’n stoel, oor ’n tafel en op die mat verkrag.

“Ek het gewens hy is al klaar. Dit het aangehou en aangehou. Ek het gevra of hy nie nou genoeg gehad het nie.”

“Ek is nog nie klaar nie,” het hy in Engels aan haar gesê. Toe hy klaar was, het hy haar selfoon, skootrekenaar en tablet gevat.

“Hy het vir my gesê ek mag nie polisie toe gaan nie, hy sal my kom doodmaak.

Prinsloo het getuig Alice het vir haar gesê: “Ek is baie bang. Ek sal hom kan uitken, maar ek wil hom nie weer voor my sien nie.”

Johannes Mokati Maandag in die hooggeregshof in Bloemfontein.Foto: Alzane Narrain

Prinsloo sê daardie aand kon sy nie slaap nie. Die volgende oggend vroeg het sy besluit sy kan Alice en die gemeenskap nie in die steek laat nie.

“Ek het geweet wie hy is, want Alice het hom beskryf.”

Sy het begin rondvra en inligting gekry.

Daardie selfde dag het sy en ’n ander polisielid Mokati in hegtenis geneem waar hy met oorfone aan na musiek op Alice se skootrekenaar geluister het.

Adv. Johan de Nysschen kla aan en adv. Pieter Nel tree vir Mokati op.

Meer oor:  Alice Maree  |  Johannes Mokati  |  Bloemfontein  |  Verkragting  |  Verklaring  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.