Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verkragter kry lewenslank ná hy weer verkrag

’n Man van Deneysville in die Vrystaat is tot lewenslange tronkstraf en ’n verdere 20 jaar gevonnis nadat hy twee tienermeisies verkrag en nog een seksueel aangerand het.

Simphiwe Jacob Mnguni (36), wat op parool was toe hy die misdade gepleeg het, is Dinsdag in die rondgaande hooggeregshof in Sasolburg deur regter Martha Mbhele tot lewenslange tronkstraf vir die verkragting van ’n 15-jarige meisie gevonnis.

Hy is ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting van ’n 17-jarige meisie en nog vyf jaar vir seksuele aanranding.

Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Phaladi Shuping, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Vrystaat, sê volgens die bewyse in die hof het Mnguni die 15-jarige meisie op 18 Augustus verlede jaar verkrag terwyl sy huis toe geloop het.

Mnguni het die meisie met ’n mes gedreig, haar na die agterkant van die Wonke Wonke-supermark gesleep en haar verkrag.

Dat hy op parool was, het hom nie ontmoedig om verdere misdade te pleeg nie. As dit hom wel ontmoedig het, beteken dit hy sou gerehabiliteer kon word.
Adv. Sandile Mthethwa

Hy het op dieselfde dag nog ’n meisie seksueel aangerand.

’n Groep mans het die meisie se noodkrete gehoor en tot haar redding gekom.

Vier dae later het Mnguni weer toegeslaan toe hy die 17-jarige meisie verkrag het. Die meisie was in die vroeë oggendure saam met ’n vriend van ’n taverne op pad huis toe, toe Mnguni hulle konfronteer.

Hy het die meisie met ’n klip oor die kop geslaan en haar na ’n begraafplaas geneem waar hy haar verkrag het.

Volgens Shuping het Mnguni is sy verhoor aan die hof gesê hy en die meisies was in ’n verhouding en dat die seksuele omgang tussen hulle konsensueel was.

Adv. Sandile Mthethwa, vir die staat, het egter die bewerings afgeskiet en gesê die slagoffers het nie hul aanvaller geken nie en dat Mnguni deur sy DNS wat by die meisies gekry is, verraai is.

“Die klaers het hof toe gekom en het nie geweet wie hul aanvaller is nie omdat hy ’n klapmus aangehad het. Hulle het geen rede gehad om te lieg oor die gebeure nie.

“Hulle het net hof toe gekom om die waarheid te praat. Dit is nie iets wat ons van die beskuldigde kan sê nie. Sy weergawe was redelikerwys moontlik onwaar,” sê Mthethwa.

Hy het ter strafverswaring gesê Mnguni het geen berou getoon nie en die hof moet hom geen genade betoon nie omdat hy die misdade gepleeg het terwyl hy op parool was.

“Die beskuldigde is in 2007 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting. Hy was op parool toe hy die oortredings gepleeg het.

“Dat hy op parool was, het hom nie ontmoedig om verdere misdade te pleeg nie. As dit hom wel ontmoedig het, beteken dit hy sou gerehabiliteer kon word. Dit is die enigste vonnis wat vir hom ’n duidelike boodskap sal stuur dat die howe nie enige skending van onskuldige vroue sal duld nie,” sê Mthetwa.

Meer oor:  Deneysville  |  Lewenslange Tronkstraf  |  Verkragter  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.