Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermeende baba-ontvoerder bly vir eers agter tralies

Karabo Tau, ’n matriekleerling van Gugulethu buite Kaapstad wat daarvan aangekla word dat sy die twee maande oue babaseuntjie Kwahlelwa Tiwane verlede Donderdag ontvoer het, sal in aanhouding bly tot haar volgende hofverskyning aanstaande week.

Tau is Vrydag in hegtenis geneem.

Die babaseuntjie se ma, Asanda Tiwane (29), het Dinsdag in Tau se borgtogaansoek, wat verlede week begin het, in die landdroshof in Bellville getuig.

Die hof het gehoor dat Tiwane vir Tau die eerste keer op Vrydag 10 Januarie ontmoet het. Tau het volgens haar getuienis van deur tot deur geloop en haarself as ’n maatskaplike werker voorgestel. Sy het glo gesê haar naam is Monica en dat sy werklose mense soek wat sy met koepons en kospakkies van R1 000 kan help.

Karabo Tau
Karabo Tau wat daarvan aangekla word dat sy op 16 Januarie ’n twee maande oue babaseuntjie, Kwahlelwa Tiwane, ontvoer het. Foto: Maygene de Wee

Tiwane het begin huil toe sy getuig het dat Tau daarna nog drie keer by haar huis aangedoen het waar sy, haar tweeling, hul pa en ’n ouer boetie woon.

Verlede week Donderdag, toe haar seuntjie ontvoer is, was dit die vierde keer dat Tau glo by haar huis was.

Dié dag is sy omstreeks 14:00 saam met Tau na haar “kantoor” in Parow waar sy glo die koepons of kospakkies sou ontvang.

Tau het glo altyd per taxi na haar huis gekom. Sy het haar as Monica voorgestel en gesê dat sy in Site B, Khayelitsha, woon.

Tiwane het getuig sy het gedink dat Tau so 19 of 20 jaar oud kan wees. Sy het aan Tau se prokureur, Sulaiman Chotia, onder kruisondervraging gesê dat sy nie juis gewonder het waarom ’n maatskaplike werker so jonk sou wees nie. Sy het haar ook nie gevra vir watter staatsdepartement sy werk nie.

Sy het getuig dat sy nog nooit by Tau se ouerhuis in Gugulethu was nie, nie eens saam met die polisie nie.

Chotia het aan haar genoem dat Tau ’n alibi het vir al die dae wat sy volgens haar in Khayelitsha was. Tiwane se antwoord hierop was dat sy dit mag hê, maar sy weet sy is die persoon wat haar kind ontvoer het.

Sy het getuig die dag van die ontvoering is hulle per taxi vanaf Site C se taxistaanplek na Parow. Naby die poskantoor het hulle by stalletjies uitgeklim waar Tau aan haar gesê het hulle moet kyk vir iets om te drink. Tau het toe gesê sy wil gou na die poskantoor gaan om afskrifte te laat maak. Sy het glo Tiwane se baba, Kwahlelwa, by haar gehad.

Tiwane het naby die Poskantoor gewag, maar Tau het nooit met haar kind teruggekeer nie. Toe sy besef dat Tau met die kind weg is, is sy per taxi terug na Khayelitsha. Sy het Tau aanhoudend op haar selfoon gebel, maar dit het onbeantwoord gebly. Sy het toe ’n saak by die polisiekantoor in Harare aanhangig gemaak.

Volgens Tiwane het sy nie ’n beskrywing van Tau aan die polisie gegee nie, want hulle het nie daarvoor gevra nie. Sy het wel Tau se selfoonnommer vir hulle gegee. Op ’n foto wat die polisie met die selfoonnommer verbind het, het sy Tau geïdentifiseer.

Die staat het Dinsdag sy saak gesluit. Chotia het aan die hof gesê dat hy Tau se ma en nog twee ander mense gaan roep om te getuig.

Die saak is tot 4 Februarie uitgestel.

Meer oor:  Karabo Tau  |  Kaapstad  |  Gugulethu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.