Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermeende Dros-verkragter nou na Weskoppies

Die vermeende Dros-verkragter sal Woensdag weer in die hof verskyn sodat hy volgens wet na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria vir waarneming gestuur kan word.

Die 20-jarige Nicholas Ninow sit verlede jaar koponderstebo in die beskuldigdebank terwyl lede van onder meer die ANC-vroueliga en die media foto’s van hom neem. Foto: Deaan Vivier

Phindi Louw, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Maandag bevestig dat daar nou ’n bed vir Nicholas Ninow in Weskoppies beskikbaar is en dat hy vir evaluering en waarneming gestuur kan word.

Die saak teen Ninow is in November in die landdroshof in Pretoria tot 15 Januarie uitgestel in afwagting op ’n beskikbare bed by Weskoppies.

Indien daar egter ’n plek beskikbaar sou raak, moet hy vroeër hof toe gebring word sodat hy ingevolge die wetlike proses na Weskoppies gestuur kan word.

Adv. Sanet Jacobson, aanklaer, het met Ninow se hofverskyning in November gesê hy was in daardie stadium nommer 14 op die opnamewaglys by Weskoppies.

Die beskuldigde sou ook intussen na ’n distriksgeneesheer verwys word vir waarneming en die opstel van ’n verslag vir die Weskoppies-paneel.

Ninow is verlede jaar daarheen verwys om sy geestestoestand en toerekeningsvatbaarheid tydens die beweerde Dros-verkragting te bepaal, veral in die lig van sy geskiedenis van geestesiektes, soos bipolêre versteuring, asook sy dwelmmisbruik.

Sy prokureur, Riaan du Plessis, het vroeër aangevoer dat Ninow al dwelms gebruik sedert hy 14 jaar oud was.

“Hy het ook ’n geskiedenis dat hy homself beseer en van pogings om sy eie lewe te neem weens die ernstige depressie wat deur die bipolêre versteuring veroorsaak word,” het Du Plessis aan die hof gesê.

Op versoek van Du Plessis het die hof toe ook beveel dat, pleks van die standaardprosedure van twee psigiaters wat ’n persoon vir 30 dae lank evalueer, ’n derde psigiater én ’n kliniese sielkundige ook deel van die paneel moet uitmaak.

Hy het ook ’n geskiedenis dat hy homself beseer en van pogings om sy eie lewe te neem weens die ernstige depressie wat deur die bipolêre versteuring veroorsaak word.
Riaan du Plessis

Ninow word daarvan beskuldig dat hy op 22 September verlede jaar ’n sewejarige meisie in die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, verkrag het.

Hy was daardie dag na bewering ook in die besit van kokaïne.

Hy word ook van aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla omdat hy glo met sy gordel na kelners geslaan het wat hom ná die beweerde voorval probeer aankeer het.

* ’n Nuwe datum vir Ninow se volgende hofverskyning sal Woensdag bepaal word.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Weskoppies  |  Dros-Verkragter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.