Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
'Ek het nie gekyk nie, net gesteek' - hof

Die man wat daarvan aangekla is dat hy ’n sakeman van Durbanville, Kaapstad, op 7 Oktober 2015 altesaam 14 keer met ’n jagmes gesteek het, het Maandag in die streekhof in Parow getuig dat hy uit selfverdediging opgetree het.

Inge Pruis en haar nou vervreemde man, Freddie Pruis jr. in gelukkiger dae. Foto: Facebook

Angelo Isaacs het getuig dat Freddie Pruis jr. die aand van 7 Oktober 2015 verskeie kere oor hom gery het waar hy tussen ’n muur en Pruis se bakkie vasgekeer was en dat hy genoodsaak was om die jagmes wat hy in die binnekant van sy leerbaadjie gehad het, uit te haal en na Pruis te steek.

“Ek het nie gekyk waar ek steek nie, ek het net gesteek,” het Isaacs getuig waar hy op aanklag van sameswering om moord te pleeg, verskyn het.

Die hand waarmee Pruis volgens Isaacs se getuienis hom (Isaacs) vasgehou het terwyl hy sy bakkie agteruit in ’n muur vasgery het, is egter nie raakgesteek nie.

Isaacs het getuig dat hy onder valse voorwendsels met Pruis vergader het. Hy het hom gekontak en ’n kwotasie gevra vir die installering van sonpanele. Pruis bedryf so ’n onderneming. Die ontmoeting was in die laatmiddag, amper aand.

Isaacs is volgens die staat deur Dean Johnson, ’n karatekenner en waaghals van Uitsig op die Kaapse Vlakte gehuur om Pruis jr, te vermoor.

Ek het nie gekyk waar ek steek nie, ek het net gesteek.
Angelo Isaacs

Johnson is die minnaar van Pruis se vervreemde vrou, Inge Pruis. Sy, Isaacs en Johnson word saam aangekla dat hulle saamgesweer het om Pruis jr. te vermoor. Hy het die aanval oorleef.

Isaacs het getuig dat Johnson hom oor etlike maande tot 7 Oktober 2015, die dag waarop hy vir Pruis aangeval het, tussen R30 000 en R40 000 betaal het.

Angelo Isaacs Foto: Verskaf

Die geld was volgens hom egter nie betaling om Pruis te vermoor nie. Hy moes glo net Pruis se bewegings dophou en waar moontlik foto’s neem van plekke wat hy besoek of mense wat hy ontmoet.

Pruis het in sy wit bakkie daar aangekom maar nie uitgeklim nie en het hulle deur die bestuurder se venster gepraat. Johnson sou ook by die ontmoeting wees maar het nie opgedaag nie.

“Ek het toe vir hom gesê dat ek daar is om oor sy vrou te praat. Hy het drie of vier keer op die stuurwiel geslaan en my gevra of ek haar n**i? Hy het my toe aan my baadjie gegryp, sy bakkie in reverse gesit en agteruit begin ry.”

Volgens Isaacs het hy, toe hy besef dat hy en die bakkie amper teen die muur is, die jagmes uitgepluk en begin steek.

Die bakkie het in die muur vasgery. “Hy het drie of vier keer oor my gery.”

Pruis het in sy bakkie na die Goodwood-brandweerstasie gejaag waar hy inmekaargesak het en gehelp is. Hy is daarna na ’n hospitaal geneem.

Johnson wou later by hom weet wat gebeur het. Johnson het die volgende oggend vir hom salf en pynpille gebring en hy het nooit weer van hom gehoor nie.

Hy voel dat Johnson hom in die steek gelaat het.

Meer oor:  Durbanville  |  Kaapse Vlakte  |  Huurmoordenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.