Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermeende moordenaar ‘glo hy steek 'n dier’
Herman Scholtz (59) is minstens drie keer in die bors gesteek. Foto: Facebook

Ashley Mazibuko kon “presies” aan ’n distriksgeneesheer “beskryf” wat die aand van Herman Scholtz se moord gebeur het.

Volgens hom het hy ’n dier met vier bene – soos ’n hond – gesteek, lui die distriksgeneesheer (DG) se verslag wat Maandag in die landdroshof in Pretoria ingehandig is.

Mazibuko het aan die DG gesê hy het eers later besef dat hy sy werkgewer doodgemaak het.

Hierdie beskrywing van die gebeure het die dokter laat vermoed dat die 49-jarige man dalk aan paranoïese skisofrenie ly en hy het Mazibuko na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria vir ’n volledige evaluasie verwys.

Mazibuko word van die moord op Scholtz (59) in die vroeë oggendure van 10 Maart in sy huis in Elodoraigne, Centurion aangekla. Hy het 26 jaar vir Scholtz gewerk.

Lede van die Copwatch-veiligheidsmaatskappy het hom daardie nag op die toneel aangekeer nadat hulle die veiligheidshek voor die deur moes oopbreek terwyl die aanvaller binne besig was om die oorledene met messe te steek.

Mazibuko is in ’n vorige hofverskyning na die DG verwys, onder meer omdat hy gedurende konsultasies met sy regsverteenwoordiger “nie sin gepraat het nie”.

Mazibuko het Maandag met sy terugkeer na die hof gelyk asof hy geen belang by die hofverrigtinge het nie.

Hy het bly omdraai in die beskuldigdebank asof hy iemand in die openbare galery soek.

In die DG-verslag word hy beskryf as goed gemanierd sonder enige emosionele versteuring, hoewel die beskuldigde by tye “tranerig en berouvol” voorgekom het.

Ashley Mazibuko in die hof.

Hy het ’n gemiddelde intelligensie en het in 1987 in Lesotho matriek verwerf.

Daarby was hy georiënteerd ten opsigte van tyd en plek, en hy verstaan die aanklagte, sowel as die gevolge daarvan.

Dit was egter sy beskrywing van die voorval met die “vierbenige dier”, wat gelei het tot die aanbeveling dat hy vir 30 dae na Weskoppies verwys word.

* Scholtz het gedurende die aanval alleen in sy huis in ’n kompleks gebly. Die bure het die Sondag omstreeks 02:00 ’n rumoer gehoor en ondersoek ingestel.

Hulle het deur die geslote veiligheidshek gesien hoe Scholtz aangeval word.

Hulle kon nie die hek oopkry nie en het Copwatch ontbied.

Scholtz se broer, Hein, het vroeër gesê die oorledene het terugbaklei, maar hy is op die toneel dood.

“Ek is nie seker hoe die werknemer die huis ingekom het nie.

“Dalk het hy geklop en Herman het oopgemaak. Ek meen, ná 26 jaar is ’n werknemer al byna soos deel van die familie,” het Hein vroeër gesê.

* Mazibuko sal weer in Mei in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding.

Meer oor:  Moord  |  Mesaanval  |  Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.