Uitstaande DNS-verslae en ’n uitkenningsparade is die rede vir die uitstel van ’n moordsaak in Tulbagh teen Jakobus Petoors, wat daarvan beskuldig word dat hy ’n agtjarige seun verkrag en verwurg het.
Die hof het ook gehoor dat Petoors (58), wat ten tyde van die beweerde misdade in Februarie vanjaar op parool was, nou die res van sy vonnis sal uitdien en eers weer op 23 Julie 2024 vrygelaat kan word.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging, het bevestig dat die saak Dinsdag in die plaaslike landdroshof in absentia tot 18 Augustus uitgestel is.

Reagen Gerste (8) van Tulbagh is verwurg en verkrag. Foto: Verskaf
Petoors staan tereg op aanklagte van menseroof, verkragting van en moord op Reagan Gertse (8) van Tulbagh. Hy is glo ’n nabye familielid van Ricardo Davids, Reagan se pa.
Die staat voer aan dat hy die seun op Saterdag 29 Februarie ontvoer, verkrag en vermoor het.
Davids en ander inwoners van Tulbagh het die seuntjie se lyk die volgende dag agter die Rhodes-fabriek in ’n vlak rivierloop gekry.
In ’n lykskouing die daaropvolgende Maandag is bevind dat Reagan verkrag en verwurg is.
Petoors is op 4 November verlede jaar uit die Obiqua-gevangenis buite Tulbagh op parool vrygelaat. Hy is in Oktober van die Voorberg-gevangenis na Obiqua oorgeplaas.
Hy was in die Voorberg-tronk vir verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die tronkstraf hou verband met ’n saak in Klapmuts waarin die slagoffer glo ook ’n minderjarige kind was.
Met Petoors se verskyning in Maart het landdros Pieter Klazen gesê Petoors het die reg om aansoek om borgtog te doen, maar dit sal nie toegestaan word nie omdat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het.