Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermeende moordenaar se regsman ‘walglik, onderduims’
Familielede, vriende en ondersteuners van die Dangors Woensdag buite die landdroshof in Klerksdorp waar Mohamed Dangor se vermeende moordenaar verskyn het. Foto: Susan Cilliers
Die vermeende skieter Tshiamo Confident Sekgoro.

Dis hartseer dat die regstelsel misbruik word terwyl Mohamed Dangor (31) se familie ná sy moord geregtigheid wil sien geskied.

“Dit het ons familie en die gemeenskap uitmekaargeruk; ons is teleurgesteld dat die regsproses nou vertraag word,” het Dangor se neef, ook Mohamed Dangor, Woensdag in die landdroshof in Klerksdorp gesê nadat landdros Zelda Strauss haar aan Dangor se vermeende moordenaar se borgtogaansoek onttrek het.

Tshiamo Confident Sekgoro (37) verskyn nou weer op 27 November voor ’n ander landdros wat nou eers aangewys moet word om sy borgtogaansoek te behartig.

Sekgoro het homself op 11 November aan die polisie oorgegee nadat hy Mohamed glo doodgeskiet en twee mense ernstig gewond het. Al die slagoffers is verskeie kere geskiet. Die voorval het in die vertoonlokaal van Speedy Car Sales in Klerksdorp gebeur.

Die vermoorde Mohamed se pa, Farouk, is die eienaar. Die Dangors is ’n gesiene sakefamilie wat bekend is om hul uitgebreide liefdadigheidswerk en liefde vir motorsport.

Strauss het die gedrag van Sekgoro se regsverteenwoordiger Woensdag as “walglik en onderduims” beskryf.

Strauss het die gedrag van Sekgoro se regsverteenwoordiger Woensdag as “walglik en onderduims” beskryf. Sy het gesê Khotso Baloyi se “valse en wilde aantygings” in die hof dat sy moontlik bevooroordeeld is, is tipies ’n taktiek om die hof se gesag te diskrediteer en te soek na “ ’n gunstige uitkoms” (in ’n borgtogaansoek).

Sekgoro word van ’n bylae 6-misdryf aangekla, wat beteken hy sal buitengewone omstandighede moet bewys om op borgtog vrygelaat te word. Hy staan tereg op een klag van moord en twee van poging tot moord.

Die vermoorde Mohamed Dangor (regs) was bekend in motorsportkringe.

Baloyi het gesê daar is moontlik ’n persepsie dat Strauss bevooroordeeld is omdat sy glo aan twee hofamptenare gesê het sy wil Mohamed se begrafnis (op 12 November) bywoon. “Die blote persepsie is genoeg rede vir haar om te onttrek,” het Baloyi aangevoer. Strauss het geantwoord dis onwaar en dat sy nie eens vir Mohamed geken het nie. “Ek was in der waarheid die dag van sy begrafnis by die begrafnis van ’n bejaarde Joodse vrou.”

Baloyi het nie Strauss se voorstel aanvaar dat sy die hof verdaag sodat hy weer met Sekgoro en sy “onbetroubare” bron kan gaan praat oor die “misleidende” bewerings nie. “Ek het klaar gepraat en dis my instruksie,” het Baloyi volgehou. Strauss het die hof steeds verdaag.

Agtergrond

Righardt Bezuidenhout, Speedy Car Sales en die Dangors se regsverteenwoordiger, het vroeër gesê Sekgoro het onlangs ’n Mercedes-Benz A45 4Matic by die onderneming gekoop, maar kort daarna by die ombudsman vir die motorbedryf oor sekere defekte gekla. Speedy Car Sales het die voertuig laat ondersoek. Dit het R4 700 gekos, en Sekgoro se klag het vals geblyk te wees, sê Bezuidenhout.

Die verdagte is versoek om die uitgawes van R4 700 te dek, maar hy het geweier en ’n dringende hooggeregshofaansoek teen Speedy Car Sales gebring. Dis van die rol geskrap weens ’n gebrek aan dringendheid, maar Sekgoro het steeds geweier om die geld te betaal sodat hy die motor kon terugkry. Die skietery het kort daarna gebeur. Sekgoro se regsverteenwoordiger wou nie hieroor kommentaar lewer nie.

Toe die verrigtinge hervat, het sy gesê sy onttrek haar. “U optrede is weersinwekkend, onvanpas en ’n misbruik van die regstelsel,” het Strauss aan Baloyi gesê. “Die objektiwiteit van hierdie hof is bo verdenking. Ek neem aanstoot oor u valse aantygings. Daar mag egter nou ’n opvatting wees dat ek nie onpartydig is nie weens die konflik tussen my en u. Ek onttrek dus weens u optrede, en nié weens die valse aantygings of enige vooroordeel nie. Daar is ’n beduidende vertrouensbreuk tussen my en u.”

Strauss het ook gesê sy gaan Baloyi se gedrag onder die aandag van die tersaaklike regsvereniging bring deur die getranskribeerde hofrekord aan hulle te verskaf.

Die landdroshof was Woensdag stampvol familielede, kennisse en ondersteuners van die Dangor-familie. Hulle het T-hemde gedra met ’n foto van die vermoorde Mohamed, met sy geboorte- en sterfdatum daarop. Agterop die hemde staan #Justice for Mo Dangor.

Zaheer Dangor, ’n familielid, het gesê Mohamed se naaste familie soos sy pa, sy ma, Shameema en vrou, Kamilla, was nie in die hof nie omdat hulle nog “te seer en kwaad” is.

“Ons wil nie hê die beskuldigde moet op borgtog vrygelaat word nie. Die pa van drie jong kinders is dood. Ons wil hierdie saak ook in die kollig plaas om te pleit dat die doodstraf heringestel word.”

Volgens Zaheer is die ander skietslagoffers nou buite gevaar. Mebs Soomra, ’n verkoopsbestuurder by Speedy Car Sales, is intussen uit die hoësorgeenheid van ’n plaaslike hospitaal na ’n gewone saal oorgeplaas. Joe Ally, ’n vriend van die Dangors, is reeds ontslaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.