Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermeende terreur-leier, volgelinge feestyd in tronk
Harry Knoesen
Harry Knoesen, die vermeende leier van die National Christian Resistance Movement, beskryf homself op sy Facebook-blad as “ ’n tydbom wat perfek gestel is vir die perfekte uur. ’n Hitler x10 vir my Skepper, my ras, my volk en die versekering van die voortbestaan van ons nageslag.” Foto: Verskaf

’n Man wat glo hy is “deur God gestuur om die wit Afrikaner-volk te lei”, gaan saam met drie van sy volgelinge Kersfees en Nuwejaar agter tralies deurbring.

Harry Knoesen (60), leier van die Crusaders National Christian Resistance Movement, bekend as die Crusaders, het Maandag saam met drie van sy volgelinge in die streekshof in Middelburg, Mpumalanga, verskyn.

Hulle word aangekla kragtens die Wet op die Beskerming van die Konstitusionele Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite (Wet 33 van 2004).

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê die saak is tot 21 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel. Hulle sal in aanhouding bly.

’n Voormalige volgeling van Knoesen, wat anoniem wil bly, sê Knoesen is ’n selferkende rassis.

“Hy glo die Here het vir hom gesê hy moet mense bymekaar bring. Hy verkondig al jare die praatjies van sy staatsgreep wyd oor sosiale media,” beweer die man.

Hy het van die beweging weggebreek toe Knoesen sy praatjies na bewering in dade wou omsit.

“Ek het ’n gesin om aan te dink,” sê hy.

Harry Knoesen,die vermeende leier van die Crusaders National Christian Resistance Movement. Foto: Verskaf

Knoesen is Donderdag in hegtenis geneem terwyl sy vermeende handlangers Vrydag vasgetrek is.

Een van die vroue wat Maandag saam met hom in die hof verskyn het, is Riana Heymans (54), ’n eiendomsagent en ouma van twee.

Cherise Stolz sê hul familie is erg geskok oor die bewerings teen haar tante.

“Riana is so ’n sagte mens wat altyd uitkyk vir almal,” sê Stolz oor Heymans wat met haar oom getroud was.

Sy sê dat hulle nooit geweet het Heymans is betrokke by die Crusaders-beweging nie.

Netwerk24 het probeer om Knoesen vir kommentaar te nader oor die bewerings teen hom, maar sy selfoon was af. Op sy Facebook-blad het hy egter op 31 Augustus gesê dat hy met die “wit ras” die “tafels kan omdraai met julle aan my sy. Ek wil en kan die voortbestaan en toekoms van ons mooi, God-geskape ras verseker.”

Die Valke het tydens Knoesen se inhegtenisneming beslag gelê op vuurwapens, dokumente en ook plofstof. Die plofstof is in ’n huis in die Oos-Kaap gekry. Die Valke het aanvanklik vermoed die huis behoort aan Knoesen, maar dit behoort aan ’n ander lid van die Crusaders.

Heymans is in hegtenis geneem nadat die Valke haar foto in die media versprei het.

Die derde en vierde verdagtes is die broers, Eric Abrams (55) en Errol Abrams (49).

Meer oor:  Harry Knoesen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.