Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermiste Liam (2): Pa skuldig aan moord
Nantes Nortjé in die beskuldigdebank.Foto: Alet van der Walt

Die tweejarige peuter Liam Nortjé, wat in November 2017 verdwyn het, se pa is Woensdag in die rondgaande hof in Harrismith in die Vrystaat aan sy moord skuldig bevind.

Regter Corné van Zyl het Nantes Nortjé (48) se beweringe verwerp dat Liam by ander mense bly, veilig is en in ’n goeie Christelike huis grootword.

Nortjé het nie self in die hof getuig nie, maar aan sy dogters en nog getuies gesê Liam bly by ander mense.

Liam Nortjé
Liam Nortjé Foto: Argief

Hy het selfs vertel dat Liam nie meer in Suid-Afrika is nie.

Adv. Amanda Bester, die aanklaer, sê dit is die eerste keer in 33 jaar dat sy iemand van ’n moord kon aankla sonder dat die lyk gevind is.

Danksy die werk van ’n puik ondersoekspan is ’n skuldigbevinding verkry, sê sy.

Van Zyl het in haar uitspraak gesê dat Nortjé deur ’n psigiater as ’n psigopaat, manipulerend en ’n parasiet beskryf is.

Sy voormalige vrou, Cheinelle (43), was die broodwinner in die gesin en het Nortjé selfs nadat hy uit die huis is, steeds onderhou.

Liam was die egpaar, wat 23 jaar getroud was, se laatlammetjie.

Die egpaar het ook twee volwasse dogters.

“Al wat jy moes doen, was om ’n onlangse foto van Liam te neem om te wys dat hy nog leef,” het Van Zyl gesê.

Nortjé en Cheinelle, wat in Harrismith gebly het, het in 2017 vervreem geraak, waarna Liam om die beurt by hulle sou bly.

Nortjé, wat na Kestell verhuis het, het Liam in November 2017 nie weer aan sy ma terugbesorg soos wat ooreengekom is nie.

Nortjé het hierna verdwyn en vir maande lank volgehou Liam leef nog en is by mense wat hom goed versorg.

Nortjé is uiteindelik in Julie 2018 in Ladysmith aangekeer.

Hy het homself hier as Liam aan mense voorgestel.

Van Zyl het Nortjé ook skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en nog een van aanranding. Hy het sy eksvrou en dogters aangerand.

Peter van der Merwe tree vir Nortjé op.

Van Zyl sal Nortjé Donderdag vonnis.

Meer oor:  Liam Nortjé  |  Harrismith  |  Vermiste Kind  |  Skuldigbevinding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.