Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde landdros se weduwee ‘wag’ nog vir hom

Partykeer betrap sy haarself nog dat sy wag dat haar man huis toe kom, maar dan onthou sy hy is voor hul huis vermoor.

Landdros Victor Mabunda. Foto: Verskaf

Velapha Mabunda se man, Victor (50), is verlede jaar voor hul huis in Bronkhorstspruit doodgeskiet.

Sy was Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria waar die verhoor van haar man se vermeende moordenaars begin het.

Die staat voer aan Mabunda, ’n landdros van die hof in Cullinan, is deur sluipmoordenaars vermoor namens ’n voormalige tronkbewaarder.

Thomo Michael Ngoato (42), Paulos Fourie (43) en Thato Maringa (43) word verhoor op ’n aanklag van moord, alternatiewelik sameswering om moord te pleeg.

Volgens die staat het Ngoato en Fourie saam by die Baviaanspoort-gevangenis buite Pretoria as bewaarders gewerk. Hulle het Maringa ontmoet terwyl hy ’n gevangene daar was.

Ngoato is glo by die werk met dagga in sy besit betrap, waarna hy geskors en in die landdroshof in Cullinan tereggestaan het op ’n aanklag van die besit van dagga. Mabunda was die landdros in die saak.

Ngoato het glo gevrees dat Mabunda hom skuldig gaan bevind en word daarvan verdink dat hy sy vriend en oudkollega Fourie gevra het om die “dienste” van Maringa te bekom.

Maringa was in daardie stadium uit op parool.

Volgens die staat het Ngoato nagenoeg R70 000 aan Fourie en Maringa betaal. Luidens die staat se akte van beskuldiging is ’n deel van die geld ook betaal aan die persoon wat die sneller getrek het.

Van links is Thomo Michael Ngoato (42), Paulos Fourie (43) en Thato Maringa. Dié drie word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om landdros Victor Mabunda te vermoor. Foto: Isabel Venter

Dié persoon is nog nie gevang nie. Volgens die staat het die drie beskuldigdes in die hof wel met ’n gemeenskaplike doel opgetree en daarom word hulle vervolg.

Al drie het glo ná hul inhegtenisneming bekentenisse voor ’n landdros gemaak oor presies wat gebeur het op die dag van Mabunda se moord.

Dié bekentenisse se geloofwaardigheid word nou bevraagteken omdat Ngoato en sy medebeskuldigdes sê hulle is deur die polisie aangerand om skuld te beken.

Adv. Liberty Maluleka, Ngoato en Fourie se regsverteenwoordiger, het in die hof gesê sy kliënte se regte is vertrap omdat hulle aangerand is.

Die saak word Donderdag hervat.

Meer oor:  Velapha Mabunda  |  Victor Mabunda  |  Bronkhorstspruit  |  Pretoria  |  Doodgeskiet  |  Landdros  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.