Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde se pannekoekgeld ‘vir inkopietog gebruik’

Enkele ure nadat Bloemfontein se “pannekoek-tannie” vermoor en haar lyk verbrand is, het haar vermeende moordenaars met hul buit – haar pannekoekgeld – op ’n inkopietog gegaan.

Johan de Vries, namens die staat, het dié stelling Dinsdag in die Bloemfonteinse landdroshof aan een van Anna Herbst (66) se vermeende moordenaars gemaak.

Thabo Andries Ntholeng (20) het in sy formele aansoek om borgtog voor landdros Ryan Ishmail kleigetrap in sy verduidelikings waar hy die naweek van 6 Julie vanjaar was toe Herbst vermoor is.

Van links sit Lehlohonolo Gift Hans, Mpho Joseph Mateu en Thabo Andries Ntholeng Dinsdag in die beskuldigdebank van die Bloemfonteinse landdroshof. Foto: ALZANE NARRAIN

Ntholeng het gesê net voordat hy begin getuig het, het hy God gevra om hom die waarheid te help praat. “Ek praat net die waarheid.”

De Vries wou by hom weet hoekom sy medebeskuldigdes, Lehlohonolo Gift Hans en Mpho Joseph Mateu, wat hul aansoek om borgtog laat vaar het, sou lieg oor elkeen se rol in die moord.

“Volgens Hans het jy gesê jy weet hoe om by die vrou se huis in te breek sonder om gevang te word, want jy het voorheen daar ingebreek.”

Ntholeng het geantwoord die bewyse dat hy in Herbst se huis was, is geplant.

De Vries: “Julle het haar vermoor en haar lyk aan die brand gesteek in die hoop dat alle bewyse teen julle vernietig sou word.”

Ntholeng: “Ek weet nie daarvan nie. Alles is ’n komplot teen my.”

De Vries het dit aan hom gestel dat hy op borgtog vrygelaat wil word om na sy familie om te sien, “maar jy het nie aan die oorledene se familie gedink en oor wie na hulle sou omsien toe jy haar doodgemaak het nie”.

Volgens De Vries het Ntholeng ure ná die moord met Herbst se pannekoekgeld op ’n kooptog gegaan en nuwe klere gekoop.

Ntholeng sê die mense wat hom in die winkels gesien het, lieg ook.

Landdros Ishmail het Ntholeng se aansoek om borgtog tot volgende week uitgestel. Al drie bly in aanhouding.

Lebohang Motloung van Regshulp SA tree vir Hans op.

Similo Kambi van Kambi-prokureurs verskyn vir Mateu en Ntholeng.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.