Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde se weduwee ‘leef van spaargeld’

Die weduwee van die vermoorde Stellenbosse wynboer Stefan Smit sê ’n ruim polis word nie aan haar uitbetaal nie omdat die polisie nog nie op ’n vorm van die versekeraar aangedui het of enige verdagte geïdentifiseer is nie.

Stefan en Zurenah Smit.

Zurenah Smit (54) voer dít aan in ’n hofstryd met haar man se dogters.

Sy sê ook omdat ’n eksekuteur nog nie vir sy boedel aangestel is nie, kan sy geen uitbetalings kry om haar lopende koste te betaal nie en het haar lewenstyl “onmeetbaar agteruitgegaan”.

Boonop is haar skaaphond, Shiraz, sonder haar medewete verwyder van die plaas Louiesenhof, waar sy steeds woon, lui haar beëdigde verklaring.

Die 62-jarige Smit is op 2 Junie verlede jaar in sy huis op Louiesenhof doodgeskiet. Hy, Zurenah en ’n gas het pas aandete geëet toe drie aanvallers met mombakkies op ingestorm en hom trompop doodgeskiet het.

Sy lyfwag, die oudpolisiekaptein Bradley van Eyslend, was saam met nog twee lyfwagte – wat teen R40 000 per maand aangestel is – in ’n aangrensende kamer, maar hulle het glo niks gehoor nie. ’n Man wat ’n huis ’n ent van die hoofopstal gehuur het, het aan die polisie gesê hy het wel skote gehoor.

Haar lewenstyl het ‘onmeetbaar agteruitgegaan’.

Die meester van die hof het Zurenah as eksekuteur van sy boedel aangewys op grond van ’n testament wat Stefan volgens haar op 12 Januarie 2019 onderteken het. Volgens dié dokument erf sy Louiesenhof as “trougeskenk”, asook ’n kwart van ’n ander plaas, Nooitgedacht, kontant en bates van nagenoeg R7 miljoen.

Sy dogters, Martine en Louie, sê in hofstukke hulle het goeie rede om te glo dis vervals.

Volgens Martine is haar pa se ware testament op 7 Desember 2018 onderteken. Daarvolgens erf sy en Louie alles, waaronder ’n buitelandse belegging (wat glo etlike miljoene rande werd is), terwyl hul stiefma slegs verblyfreg in ’n aftreeoord in Stellenbosch kry. Die res van die boedel is bemaak aan die oorledene se suster.

Regter Elizabeth Baartman het in Desember ten gunste van Martine en Louie beslis en ’n tussentydse bevel gemaak wat die weduwee verbied om as eksekuteur op te tree.

In haar verklaring voer Zurenah aan sy en ’n dominee het dié enkelbladsytestament ná Smit se dood in die plaasopstal ontdek. Sy het afskrifte daarvan gemaak en dit na ’n handskrifdeskundige geneem. Die oorspronklike het skynbaar weggeraak.

Die dogters het ’n verslag van ’n forensiese handskrifdeskundige by die hof ingedien wat sê die handtekening op dié dokument verskil van Smit se handtekeninge op 19 ander dokumente. Volgens Zurenah is die handtekening beslis haar man s’n.

Sy sê Discovery kan die polis nie uitbetaal nie tensy ’n vorm waarop die polisie aandui of enige verdagte geïdentifiseer is of nie, ingevul word.

“Ongelukkig het die SAPD en sers. Adams nog nie dié vorm voltooi nie.”

Sy sê sy haar man het vir alles gesorg en betaal, maar nou kry sy niks nie. Haar totale uitgawes, waarvoor hy altyd betaal het, het R156 233 per maand beloop, haar huidige maandelikse uitgawes is R19 400 en haar “dringende mediese uitgawes” R68 600. Sy het ook maandeliks ’n toelaag van R10 000 by hom gekry.

Nou leef sy van spaargeld en hulp van haar eie dogter en vriende. Drie jaar gelede is niekwaadaardige gewasse aan haar lewer en galblaas asook 50% van haar lewer verwyder. ’n Groeisel het in die lewer agtergebly, sê sy.

Sedert sy dood word die versekering, mediese fonds en die paaiemente op die voertuie nie meer betaal nie.

Volgens Zurenah is die trustees haar nie goedgesind nie en het een gedreig hulle sal haar “met alle mag” teenstaan. Sy wil by hulle weet hoekom haar hond, twee voertuie, ’n grootmaat wyn, plaastoerusting sowel as Smit se sleutels vir die wyn- en distilleer-lokaal sonder haar toestemming van Louiesenhof geneem is, en wat die inkomste uit die wynverkope was.

Die trustees se prokureurs het geantwoord hulle het deurentyd ingevolge die wet op die administrasie van boedels opgetree. Die saak is vir 6 Mei op die hofrol geplaas.

Meer oor:  Stefan Smit  |  Moord  |  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.