Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde vrou se toonring ook gesteel

Die vermeende moordenaar van ’n ma van Polokwane wat in 2017 meer as 21 keer met ’n steakmes gesteek is, het selfs glo ’n goue toonring van haar gesteel.

Tanya Wiers (44) se trouring en ’n armband, met 12 diamante in, is ook gesteel op 7 Februarie 2017 in hul huis in Loganstraat in Eduanpark.

Tanya Wiers (44)

Frans Maela (28), die bure se tuinier, is dieselfde dag weens haar moord in hegtenis geneem.

Hy het Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane skuld ontken op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en verkragting.

Lt.kol. André Kotzé, wat al 33 jaar ’n polisielid is, het getuig daar was bloed op die hak van Maela se tekkie op die dag van die moord. Maela het ’n jaar en ’n half by Guido De Marre as tuinier gewerk.

Kotzé het ’n skoenskoolmerk langs ’n muur in die Wiers-gesin se erf gesien. Hy het die honde-eenheid, vingerafdrukeenheid en die forensiese ondersoekers van die polisie ontbied.

“Die skoenmerke langs die muur in die erf van die Wiers-gesin was dieselfde as die tekkies wat Maela aangehad het.”

William Kovani, Maela se prokureur, het aan die hof gesê daar was nie bloed aan sy kliënt se skoene nie.

Rolf Wiers, Tanya se man, het getuig hoe swaar die gesin kry sedert sy vrou se moord. Hy moes in Desember 2017 sy werk as ’n paaiekontrakteur bedank omdat hy na Kathu in die Noord-Kaap verplaas is en hy nie sy kinders alleen in Polokwane kon los nie.

Hul seun, Rolf jr. (18), was 16 en in gr. 8 toe hy ná skool op sy ma se halfnaak en bebloede lyk in een van die slaapkamers in die huis afgekom het. Daar was ’n duvet oor haar lyk. Wiers het getuig sy seun is uit die skool geskors omdat hy erge woede en trauma ervaar het. Hy moes ’n jaar ná die moord steeds berading kry.

“ ’n Mens probeer saamleef met wat gebeur het . . . ’n mens kan nie die horlosie terugdraai nie. Ons het geen keuse as om met ons lewens aan te gaan nie,” het hy gesê.

Tanya Wiers (44) is in 2017 in Polokwane vermoor.

Bianca Wiers (20), die egpaar se oudste dogter, het gehuil en haar trane met ’n sneesdoekie afgevee toe haar pa getuig het. Sy was 18 en in matriek aan die Hoërskool Pietersburg toe haar ma vermoor is.

Wiers het getuig dat hy op die dag van sy vrou se moord in Klerksdorp in Noordwes gewerk het. Bianca het hom gebel en vertel haar ma is vermoor.

Bianca en haar jonger suster (14) het ook berading ontvang.

Agnes Masha, die huiswerker van De Marre, het getuig dat sy voor 12:00 op die dag van die moord ’n vrou hoor skreeu het. Maela het aan Masha gesê hy was in die tyd na ’n winkel om selfoonlugtyd te gaan koop.

De Marre het ’n plastieksak met ’n tabletrekenaar en selfoon, wat aan Wiers behoort het, later die middag in die buitetoilet gekry. Die polisie het op Wiers se juwele op die vloer van die buitetoilet afgekom.

Regter Gerrit Muller het die verhoor tot Donderdag uitgestel.

Meer oor:  Frans Maela  |  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Moord  |  Hof  |  Diefstal  |  Toonring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.