Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde weermaglid se vrou ‘moet verskoning vra’

Magdaleen Titus, weduwee van stafsers. Preston Titus, moet sy familie vir die huurmoord op hom om verskoning vra voordat sy in Februarie gevonnis word.

Magdaleen en Preston Titus in November 2016 op ’n jaareinde-geselligheid in die Infanterieskool in Oudtshoorn. Foto: Facebook/Preston Titus

Titus, ’n voormalige ANC-raadslid van Oudtshoorn, is Vrydag skuldig bevind aan die huurmoord op haar man. Sy sal op 3 Februarie gevonnis word.

Dit was Maandag presies twee jaar gelede dat Preston se lyk op 2 Desember 2017 met steekwonde in ’n slaapkamer in die egpaar se huis in die Infanterieskool in Oudtshoorn gevind is. Daar was geen gedwonge toegang tot die huis nie. Hy is met ’n hamer en ’n mes vermoor.

Titus en haar medebeskuldigdes, Natasha Stuurman (38), Justice Mooi (30) en Masithembe January (23), het op aanklagte van moord met voorbedagte rade en regsverydeling tereggestaan. Al vier het skuld ontken.

Regter Nolwasi Boqwana het Titus en Mooi Vrydag in die rondgaande hof op die dorp aan moord en regsverydeling skuldig bevind.

January en Stuurman is onskuldig bevind op die aanklagte teen hulle. Die staat het gevra dat Titus aangehou word totdat sy gevonnis word.

Leon Campher, ’n familievriend, het Maandag by navraag gesê Titus moet Preston se familie, en veral sy ma, Muriel Titus (in haar 80’s), verskoning vra.

“Sy het Vrydag nog volgehou dat sy onskuldig is. Sy moet die gemeenskap ook verskoning vra.”

Titus weier blykbaar om met haar skoonma te praat.

Die huis in die Infanterieskool in Oudtshoorn waar stafsers. Preston Titus vermoor is. Foto: Jackie Kruger

Op die Facebook-blad “Justice for Preston Titus” is Preston beskryf as ’n stil, rustige en liefdevolle man wat alles vir sy vrou sou doen.

Vrydag nadat Titus skuldig bevind is, het sy inderhaas ’n borgtogaansoek gebring, maar dit is nie toegestaan nie. Sy het onder meer aangevoer dat sy haar twee dogters (16 en 19 jaar oud) op haar die vonnisoplegging wil voorberei.

Titus se voormalige motorbestuurder, Sixabiso Klip (23), is reeds in Januarie 2018 in die plaaslike streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf vir sy aandeel in die moord gevonnis. Hy het vroeër getuig dat Titus glo van haar man ontslae wou raak en dat sy ’n verhouding met January gehad het.

In die uitspraak het die hof onder meer bevind dat Titus die moord beplan het. Sy het vroeër beweer dat sy in ’n ander kamer geslaap het en niks gehoor het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.