Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Versorger en 4 ander in hof ná dubbele moord in oord

’n Versorger van ’n aftreeoord is een van vyf mense wat Maandagmiddag in verband met die moord op twee bejaarde inwoners in die hof verskyn het.

Lede van die ondersoekspan verlaat Maandagmiddag die landdroshof in Port Elizabeth. Hulle het onverpoos die dubbele moord in die St. John Stella Londt-sentrum vir bejaardes ondersoek om ’n deurbraak te maak. Van die Mountweg-polisiegebied se triomisdaad-speurtak is van links konst. Joslyn Williams, kol. Paul Orange, speurhoof van die Mountweg-polisiegebied, konst. Ridwaan Baatjies en sers. John Leppan. Foto: Cara-Lee Dorfling

Nomgebisi Slangveld (34), wat reeds agt jaar by die St. John Stella Londt-sentrum vir bejaardes in Port Elizabeth werk, word van die moord op Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Langton (89) aangekla.

Langton en Burns was albei inwoners van die sentrum in die Sunridge Park-woonbuurt.

Mkhuseli Dananet (30), wat glo met Slangveld bevriend is, Nyasha Nayange (33), Panganai Mabwe (27) en Craig Madiro (20) staan ook op die dubbele moord tereg.

Slegs Slangveld en Dananet sou aanvanklik van die moorde aangekla word. Maar Maandagmiddag is aanklagte van sameswering tot moord en geldwassery teen Nayange, Mabwe en Madiro na moord verander.

Adv. Marius Stander, staatsaanklaer, het in die plaaslike landdroshof gesê die ondersoek duur voort en verdere aanklagte kan moontlik nog bygevoeg word.

Volgens Stander is Nayange, Mabwe en Madiro buitelanders en die staat moet nog vasstel of hulle wettig in die land is.

Dananet het drie vorige veroordelings van huisbraak en een saak van aanranding, terwyl Nayange ’n vorige veroordeling vir die besit van gesteelde eiendom het.

Stander het aangevoer dit is ’n bylae 6-misdryf. Die staat sal borgtog vir die beskuldigdes teenstaan.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel en sal in hof 25 (borgtoghof) voorkom, waar ’n datum vir ’n formele borgtogaansoek vasgestel sal word.

Die vyf beskuldigdes is Vrydagoggend in die vroeë oggendure ná ’n week lange ondersoek in hegtenis geneem.

Die slagoffers is in hul onderskeie kamers op die eerste verdieping van die sentrum dood op hul beddens aangetref.

Hul hande en voete was met kledingstukke vasgebind en hul monde was toegeplak. ’n Lykskouing het getoon dat hulle versmoor het en daar was wurgmerke aan hul nekke.

Dit is moeilik om te verstaan wat tot hierdie optrede gelei het. Ons is diep ontsteld oor die situasie en ons sal alles moontlik doen om ’n herhaling te voorkom.

Krugerrande, juwele en horlosies wat gebuit is, is glo in die Kuyga- informele nedersetting aan die buitewyke van Port Elizabeth in die besit van die een van die verdagtes gevind.

Die polisie wou nie sê in wie se huis die gesteelde artikels gevind is nie.

George Woods, uitvoerende hoof van die St. John-groep, het Maandagmiddag sy ontsteltenis uitgespreek oor een van hul werkers wat by die moorde betrek word.

“Dit is moeilik om te verstaan wat tot hierdie optrede gelei het. Ons is diep ontsteld oor die situasie en ons sal alles moontlik doen om ’n herhaling te voorkom.”

Personeel by die sentrum sal weer ’n keuringsproses deurloop en hul misdaadgeskiedenis sal noukeurig nagegaan word, het Woods gesê.

Veiligheidsmaatreëls in en rondom die sentrum word ook verbeter.

Woods het gesê hy is dankbaar teenoor die polisie en hul eie forensiese span oor die vordering in die ondersoek. Volgens hom is die ondersoek in ’n sensitiewe stadium, en die oord gaan steek tans kers op by ander tehuise wat deur soortgelyke situasies is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.