Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verwaarloosde huis in Brooklyn nou vry van BLF

’n Pretoriase prokureur het ná ’n stryd van sowat nege maande uiteindelik daarin geslaag om ’n groep van Black First Land First (BLF) wat ’n huis in Brooklyn “beset” het, daar uit te kry.

Omtrent agt maande nadat BLF-lede dié huis in Brooklyn beset het, is dit in ’n erg verwaarloosde toestand. Foto: Deon Raath

Die balju het die groep Vrydag uit die huis verwyder nadat die hooggeregshof in Pretoria Donderdag ’n uitsettingsbevel toegestaan het.

Rapport het verlede September berig dat dié huis, wat weens ’n voortslepende boedeldispuut tydelik onbewoon gelaat is, deur lede van Andile Mngxitama se BLF-beweging beset is.

Donderdag het regter A.J. Brand beslis dat Amanda Mjindi, Dlozi Mthetwa en enige ander inwoners van Brooksstraat 253 in Brooklyn nie net die eiendom moes ontruim nie, maar ook die koste van die uitsettingsbevel moes dra.

‘BLF het nie geld vir ’n hofsaak.’

Dit volg nadat Mngxitama reeds op 13 Mei in ’n brief aan Mike Potgieter, die prokureur wat namens die boedel (wat die huis besit) optree, van die saak onttrek het.

“Hiermee onttrek die respondente van die saak omdat ons nie die geld het om regsverteenwoordiging te bekom nie,” het Mngxitama onder meer geskryf. Hy het ook geskryf die BLF het nie eens die geld om “die hofverskyning by te woon nie”.

Renier de Meyer van Interactive Security, wat die uitsetting behartig het en nou die huis beveilig, sê die uitsetting het, anders as wat hulle verwag het, sonder probleme geskied.

Vrydagoggend teen 08:00 was die BLF-inwoners en hul eiendom reeds op straat. Foto’s: Deon Raath

“Ons het vanoggend 07:00 met ’n span wagte opgedaag vir die uitsetting. Ons was reg vir moeilikheid, maar die lede van die BLF wat hulself op die eiendom bevind het, het geen weerstand gebied toe ons hul meubels, klere en ander eiendom verwyder het nie. Teen 08:00 was alles verby en het hulle met hul eiendom op die sypaadjie gesit,” sê De Meyer.

Hy sê dit lyk nie asof die BLF ingetrek het om te bly nie, maar om te verwoes. Hy raam die skade op sowat ’n halfmiljoen rand.

Elektriese bedrading en ligte is weggedra, die kragopwekker-kamer is leeg gesteel en die verf is selfs plek-plek van die mure afgeskuur.

Die slotte van al die deure in die huis is so beskadig dat slotmakers dit nou moet vervang.

Die besetters het volgens De Meyer destyds toegang tot die huis verkry deur ’n agterdeur uit sy kosyn te skop.

“Ons het nou ’n houtpaneel oor die deur vasgemaak totdat dit vervang kan word,” sê De Meyer.

Met Rapport se besoek Vrydag was die binnekant van die huis in ’n gehawende toestand en die tuin en swembad steeds verwaarloos.

Die kombuis was so vuil dat die veiligheidswagte gesukkel het om die deur oop te maak.

Die BLF-inwoners het boonop die toilette gebruik, maar dit nie gespoel nie. Rommel het oral rondgelê en ’n paar klein daggaplantjies het in potte gegroei.

“Daar was groter plante ook, maar dit het hulle reeds weggery,” sê De Meyer.

Die toilette is gebruik, maar nie gespoel nie.

Potgieter wou nie op die uitspraak of die uitsetting kommentaar lewer nie.

Mngxitama het op telefoniese navrae gereageer deur te sê dat Rapport skriftelike vrae aan hom moet stuur. Op dié vrae het hy egter net geantwoord: “F*k jou.”

Meer oor:  Brooklyn  |  Uitsettingsbevel  |  Black Land First
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.