Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Verwydering van ‘blanke’ uit testament toegestaan

Die woord “blanke” is uit ’n testament verwyder nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) geweier het om van die erflating uit dié testament te aanvaar vir ’n beurs vir studente wat hulle as sangers of pianiste wil bekwaam.

Die Vrystaatse hooggeregshof het ’n aansoek van FNB Fiduciary vir die verwydering van die woord uit die testament van wyle Anna Catherina Elizabeth Cowley van Bloemfontein toegestaan.

Anne-Marie Viljoen, streekbestuurder in FNB se afdeling welvaart en bestuur in Bloemfontein, sê in ’n hofverklaring as trustees kan hulle nie uitvoering aan die wense van Cowley gee nie omdat die UV weier om enige geld vir ’n beurs te aanvaar totdat die woord “blanke” verwyder is.

Daar is verlede jaar op ’n vergadering van trustees van die A.C.E. Cowley-trust besluit om die hofaansoek te bring.

Sy sê dié bepaling, dat die beurs vir “ ’n blanke, behoeftige, talentvolle student” beskikbaar moet wees, is ongrondwetlik deurdat dit onregverdig op ’n rassegrondslag teen ander diskrimineer.

Dit benadeel ook die belange van enige geskikte kandidaat wat nie aan dié ras-vereiste voldoen nie.

Die uitsluiting van moontlike begunstigdes weens hul ras is ongrondwetlik deurdat dit nie mense van die voorheen benadeelde groepe bevorder nie.

In haar testament het Cowley niemand anders benoem aan wie die geld sou moes gaan as die UV dit nie wou hê nie.

’n Uittreksel uit die testament van Anna Catherina Elizabeth Cowley van Bloemfontein.
’n Uittreksel uit die testament van Anna Catherina Elizabeth Cowley van Bloemfontein.

* Uit boedel-dokumente in die kantoor van die meester van die hooggeregshof blyk dit dat Cowley (90), in lewe ’n weduwee van Koning Eduardweg, Willows, op 15 Januarie 1995 aan ’n hartaanval dood is.

Sy was ’n nooi Enslin.

Luidens dié dokumente het sy destyds R512 000 nagelaat met FNB as eksekuteur van haar boedel en trustee om ’n trust te skep waaruit die beurs betaal moet word.

Haar man, Donald Joseph, se boedel is in Kaapstad afgehandel.

In haar testament het sy ’n Gregoire Boonzaier-skildery aan die kankernasorgeenheid in Bloemfontein, boeke aan die Fichardtpark-biblioteek in die stad en ander skilderye aan mense wie se name agterop die skilderye in haar huis geskryf was, nagelaat.

Die Boonzaier-skildery se waarde is destyds in die boedel op R27 000 bepaal.

Meer oor:  Universiteit Van Die Vrystaat  |  Bloemfontein  |  Blanke  |  Beurs  |  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.